Altesaam 13 mense is haweloos gelaat nadat vier informele wonings op Kersdag (Maandag 25 Desember) in ’n voerwoestende brand in Strand in puin gelê is.
Die brand het omstreeks 03:30 die oggend in Brewerystraat uitgebreek en inwoners onkant betrap.
“Ek en my vriend, wat saam my woon, het gehoor hoe mense skree. Ons het gehoor almal skree dat daar ’n brand is. Ons het gesukkel om ons deur oop te kry, maar gelukkig het iemand kom help en die deur oopgeskop, en kon ons veilig uitkom,” onthou Andrea Samuels.
Die 50-jarige inwoner en haar vriend asook drie ander gesinne het letterlik als in die brand verloor.
Catherine Cloete kon darem haar gasbottel en tweeplaatstoof uit die huis kry, maar sy kon nie weer terugdraai om van haar ander besittings te gaan haal nie aangesien die brand toe al te ver versprei het.
Jermaine Carelse, ’n woordvoerder van die Kaapstad-metro se brand-en-reddingsdienste, het bevestig dat vier informele strukture in die brand vernietig is en dat 13 mense haweloos gelaat is.
“Spanne van Strand, Sir Lowry’s Pass en Kuilsrivier het die brand gaan bestry. Die brand is teen 03:45 aangemeld en die laaste vlamme teen 05:13 is geblus. Die oorsaak van die brand is steeds onbekend,” sê Carelse.
George Watkins, wat ’n paar huise van die vier gesinne af woon en tans as opsigter van die paar informele wonings optree, sê hy probeer om die vier gesinne met sy skamele pensioengeld te help voed, maar dit gaan moeilik. “Ek gee elke dag vir hulle ’n bord kos om te eet, maar ek is vinnig besig om uit kos uit te hardloop. Ek kan nie die mense vir veel langer help nie, so ons vra ’n barmhartige samaritaan om uit te reik om die mense in nood te help,” sê Watkins.
Hy sê die vier gesinne benodig kos, klere en boumateriaal om hul huise weer te herbou. “Indien enigiemand ons wil help, kan hulle my by 084 338 5577 bel,” sluit Watkins af. . ’n Paar dae later is 19 inwoners van Helen Square in Nomzamo Maandag 2 Januarie in nog ’n brand haweloos gelaat. Sewe sinkhuise het afgebrand, maar gelukkig is niemand beseer nie.
Volgens die wyksraadslid Xolani Diniso het die brand in die donker oggendure omstreeks 02:00 uitgebreek.
Diniso het na die publiek uitgereik vir skenkings. As jy klere, komberse, matrasse, skooluniforms en nie-bederfbare kosse kan skenk, kan jy Diniso by 084 055 0615 bel.. Die brandweer is Maandag (9 Januarie) omstreeks 10:30 na ’n brand in Sercorpark ontbied. Volgens Carelse was dit ’n vals alarm. Elektriese drade in ’n wendyhuis het gebrand en mense het gedink die huis brand af.




