Die geliefde Strand-inwoner en oudonderwyser, Annalise Meyer, is vroeër vandeesmaand oorlede.

Credit: SYSTEM

’n Bekende oudonderwyser van Strand, Annalise Meyer, is Sondag 15 Januarie in die teenwoordigheid van familie oorlede.

Meyer was vir langer as 25 jaar aan Rusthof Primêre Skool verbonde en het tot haar vervroegde aftrede weens mediese redes as departementshoof gedien. Sy was die dogter van wyle Charles Meyer, ook ’n welbekende in Strand en veral gholf- en rugbykringe.

Meyer het haar skoolloopbaan aan Rusthof begin en haar opleiding verder by CR Rhoda voortgesit en later aan die Hoërskool Gordon gematrikuleer. Sy het haar tersiêre opleiding aan die Bellville-opleidingskollege as onderwyser voltooi en hierna haar honneursgraad aan die Universiteit van Potchefstroom verkry.

Rusthof Primêr se skoolhoof, Godfrey Julies, het met groot lof in ’n huldeblyk van Meyer getuig en na haar verwys as iemand met ’n besonderse karakter – ’n ware staatmaker op die personeel wat die ekstra myl vir die skoolkinders se onderrig en welstand gestap het.

Meyer was ’n gewer, en het altyd kos vir enige honger magie gehad en het selfs met die hulp van familie ’n Hoërskool Gordon-leerder se toer na Namibië met finansiële ondersteuning verwesenlik.

Meyer was ’n vrou in die ware sin van die woord – altyd met rooi lipstiffie, oogskadu, perfekte hare, rooi handsak en ’n serp met ’n blommotief. Haar handsak was altyd vol lekkers, waarmee sy kinderhartjies gedurende kerkdienste bly gemaak het.

Meyer was ’n burger van die wêreld en lief vir reis. Sy het haar eerste toer na Egipte in 1998 onderneem en die land verskeie kere besoek. Sy was ook al in Turkye en was ook saam het haar kerk se jongmense na Amerika. Voor haar afsterwe was Meyer besig met reëlings vir nog ’n besoek aan Egipte asook Israel.

Sy was nie net ’n merkwaardige vrou nie, maar ook ’n Godvresende mens. Sy het langer as twee dekades met toewyding, bereidwilligheid en onbaatsugtigheid op die kerkraad van die St. John’s-gemeente gedien.

Meyer was ’n mensemens met wie ander vrylik kon gesels. Sy was ook ’n reguit mens wat nie ’n moordkuil van haar hart gemaak het nie.

Sy sal onthou word as ’n passievolle Anglikaan wat van haarself gegee het om die Koninkryk van God te bou deur haar betrokkenheid by en deur die werk van St. John’s.

Meyer was ongetroud en het nie kinders gehad nie.

Sy word oorleef deur haar susters, Celesté, Ronél en Victoria, en hul broer, Derick.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article