Van links: Charles Jackson, Clive Jefthas, Stuart Afrika (agter), Bennie en Vera Engelbrecht, Alicia Keet, Japie Konstabel, Benita Adams en Manuel Jardine.

Credit: SYSTEM

Macassar Our Pride, ’n plaaslike organisasie sonder winsoogmerk, het vandeesweek by die twee plaaslike hoërskole besoek afgelê.

Dié organisasie beywer hom met die opheffing van die mees weerloses in die gemeenskap, veral met die klem op jongmense en bejaardes.

Die uitsluitlike doel van hierdie uitreiking is om leerders te motiveer om weldeurdagte besluite te maak rakende hul toekomstige loopbaankeuses. Die leerders word verder toegerus met ’n sakboekie getiteld Brood van die Lewe. Hierdie boekie is ’n samevatting van geskrifte uit die evangelie van Johannes. Soos Stuart Afrika van Macassar Our Pride tereg aan die leerders verduidelik het: “Lees die boekie gereeld; al jul onbeantwoorde vrae word daarin hanteer.”

Die plaaslike inwoner en landboujoernalis Duncan Masiwa was die gasspreker by beide geleenthede. Masiwa, ’n oudleerder van Zandvliet Hoër, het sy moeilike grootwordjare met die leerders gedeel. Sy oneindige deursettingsvermoë, dissipline en liefde vir skryf het hom egter gedryf om sy droom na te volg.

Hy het leerders aangemoedig om hul drome getrou na te volg, ongeag ongerief en uiterse opoffering wat dit dalk teweeg kan bring.

Die 27-jarige Masiwa is die uitvoerende redakteur van die landboupublikasie Food for Mzansi en is tans besig met verdere studies.

Leerders van die Hoërskool Macassar is met die optrede van die saksofoonspeler Manuel Jardine, ’n bekende in plaaslke musiekkringe, getrakteer. Die leerders is weggevoer met Jardine se vertolking van “Goodness of God”.

Bennie Engelbrecht, ’n afgetrede sakeman van Upington in die Noord-Kaap, het die geleentheid by die Hoërskool Macassar bygewoon en aan die leerders vertel hoe hy ná sy aftrede voltyds by die Bybelgenootskap van Suid-Afrika betrokke geraak het en lank reeds ’n diepe werksverhouding met Macassar Our Pride het.

Engelbrecht is ook die borg van die boekies, wat aan leerders oorhandig is. Al twee skole het hul opregte dank uitgespreek ten opsigte van die rol wat die organisasie in Macassar vervul.

“Macassar Our Pride se lede is almal oudleerders van ons plaaslike skole en die enorme werk wat hulle in ons gemeenskap doen, verdien inderdaad applous,” het Alicia Keet, waarnemende hoof van die Hoërskool Macassar, aan die leerders gesê.

Voor die afsluiting van die verrigtinge by die Hoërskool Macassar is ’n minuut stilte gehandhaaf ter herinnering aan die 10-jarige Denecke Persence, wat Sondag 12 Maart van haar jong lewe ontneem is.

Macassar Our Pride het in ’n verkaring gesê die organisasie veroordeel haar dood in ’n gruweldaad ten sterkste.

“Niemand verdien dit om op so ’n verskriklike wyse van die lewe ontneem te word nie. As Macassar Our Pride is ons daartoe verbind om in samewerking met ander rolspelers ’n einde te bring aan die sinnelose geweld en misdaad in ons gemeenskap,” het Clive Jefthas, die Macassar Our Pride-leier, namens die organisasie gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article