“Daar was nog ’n geval,” lui die boodskap op my foon – nog ’n jong man het homself gehang; nog ’n verlies.
’n Mens kan nie eintlik sê jong man nie – dis ’n 17-jarige-seun; ’n seun wat besluit het genoeg is genoeg. Hy het hom in ’n agterste kamer in sy ouerhuis aan ’n tou opgehang.
Net soos dié seun aan ’n tou gehang het, het sy drome aan daardie tou gehang – als wat hy wou word; als waarvan hy gedroom het.
Hy is deur sy ma en sy sussie ontdek. Sy ma moes sy lewelose lyk vashou terwyl sy sussie die tou gesny het.
Hy was weg – dood; nie meer nie. Sy drome ook.
Dis nie die seun se skuld nie. Hy moes gedink het hy het geen ander opsie nie. Hy moes daaroor gedink het, weer daaroor gedink het en weer daaroor gedink het voordat hy die besluit geneem het.
Ons moenie die skuld op hom pak nie. Nee, ons moet vra waarom? Wat het gebeur dat hy so besluit het? Hoekom hy? Hoekom dié jong seun? Hoekom kon hy nie eerder met ’n ouer of ’n vriend of onderwyser praat nie? Wou niemand luister nie? Was hy te skaam om te praat? Waarom?
Sy ma en sussie het sy lewelose liggaam op die grond neergelê en die ambulans gebel. Omtrent vyftien minute later het die ambulans daar stilgehou, maar dit was te min te laat. Toe sy ma-hulle hom ontdek het, was dit al te laat.
Ons moet begin vra hoe – hoe maak ons dat minder seuns hul lewe wil neem? Hoe stop ons dit? Hoe steek ons ’n stokkie voor dit?
Ek dink ons moet die vinger eerder na onsself wys.
Sien jy iemand raak stil? Sien jy iemand tree anders op as gewoonlik? Is iets anders? Sien jy iets raak? As jy wel doen, moet jy praat en vra en luister.
Wees die skouer vir so iemand om op te leun. Wees die een wat luister.
Luister klink dalk simpel. Dit klink dalk van min belang. Maar ek belowe jou – vir so iemand beteken dit die wêreld. Dit beteken iemand stel belang. Dit beteken iemand wil luister.
Waarom dink jy was Oprah Winfrey se show destyds so gewild? Want sy het na mense geluister. Sy het die gewone man of vrou op straat ’n stem gegee. Sy het dié wat niemand andersins sou hoor nie, ’n stem gegee.
Geen briefie was by die seun se lewelose liggaam nie. Hy het geen laaste boodskap vir sy familie gelos nie. Dalk moes hy iets geskryf het, soos: “Ek wens julle het geluister” of “wees ’n oor vir ander daar buite”.
Dan sou iemand dalk iets gedoen het en dalk sou dit ’n verskil gemaak het.
Wees vandag ’n iemand vir iemand daar buite. Wees vandag ’n oor vir iemand daar buite.
Luister na jou medemens. Wees ’n oor. Gee jou skouer. Gee al twee jou skouers. Luister net vandag. Luister!




