Altesaam 12 netbalspanne het Saterdag teen mekaar meegeding. Foto: Rick Marais


Die Helderberg-sportliga, wat verlede jaar van stapel gestuur is, het Saterdag (18 Maart) sy eerste groot ligakompetisie by die Gustrouw-sportveld gehou.

Volgens Manie Basardien, die voorsitter van die Helderberg-sportliga, het altesaam 500 leerders van sewe tot 18 jaar oud aan die sportdag deelgeneem.

“Die leerders kom van Casablanca, Tarentaal-plaas, Somerset-Wes, Firgrove asook Macassar,” vertel Basardien.

Hy sê die Helderberg-sportliga kom uit die gemeenskap en is juis gestig om die gemeenskap te dien.

“Ons netbal- en sokkerliga is juis geskep sodat die leerders van verskeie skole uit verskillende gebiede op ’n weeklikse basis teen mekaar kan meeding totdat die eindronde later vanjaar sal plaasvind.

“Altesaam 12 netbalspanne en 12 sokkerspanne neem tans aan die liga deel,” sê Basardien.

Die voorsitter sê elke klub betaal R100 per jaar om aan die liga deel te neem en sê dit is gratis vir die leerders.

“Dis juis waarom die liga begin is – om die kinders uit armer gebiede die geleenthede te gee om in sport teen mekaar kragte te meet.

“Ons bedank die gemeenskap, klubs, ouers asook die leerders wat aan ons eerste groot sportdag vir die jaar deelgeneem het. Ek wil ook die organisasie ‘Kinders vir die Koning’ bedank vir hul ondersteuning met die liga,” voeg hy by.

Aksiebelaaide sokker was aan die orde van die dag by die Helderberg-sportliga se eerste sportdag waar leerders uit verskeie gebiede teen mekaar kon kragte meet. Foto: Rick Marais

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article