Lede van die geestelike- teenmisdaad-komitee in Macassar is verlede Sondag (19 Maart) weens die verlies van nog ’n jong lewe genoop om die breë gemeenskap by ’n massagebedsessie vir die veiligheid van hul kinders te betrek.
Die eerste is Maandag 13 Maart gehou ter nagedagtenis aan Denecke Persence, die vermiste 10-jarige wie se lyk die vorige dag (Sondag 12 Maart) in ’n kanaal ontdek is, by die plek waar haar liggaam aangetref is. Die tweede was nadat die lewelose liggaam van ’n tienerseun voorverlede Vrydag (17 Maart) in die Chris Hani- informele nedersetting ontdek is.
Die provinsiale polisiewoordvoerder AO Joseph Swartbooi het die mees onlangse voorval, waarin geen misdaad vermoed word nie, bevestig en gesê beamptes van die Macassar-polisie het omstreeks 20:15 op die voorval gereageer. “Met hul aankoms is die liggaam van die 13-jarige seun, wat met ’n kombers toegegooi was, aangetref. Die slagoffer is deur mediese personeel op die toneel dood verklaar. ’n Geregtelike doodsondersoek is deur die Macassar-polisie geregistreer,” het Swartbooi gesê.
Hy het verder ’n beroep gedoen op enigiemand met inligting waarby die ondersoek kan baat vind om Crime Stop by 08600 10111 te skakel.
Auriel September, sekretaris van die geestelike-teenmisdaad-komitee, het gesê die gemeenskap het verlede Sondagaand in die omgewing van die vierrigtingstop in Albatros-weg tussen Chris Hanipark en Bellglen byeengekom en ernstig gebid vir al die kinders in die gemeenskap en vir hul beskerming teen verskeie dinge wat hulle fisiek en emosioneel afbreek. “ ’n Beroep is op ouers gedoen om kennis te neem van hul kinders se gedrag en moontlike verandering van gedrag. Ons moet met ons kinders praat en oop wees dat hulle vir ons kan sê as iets fout is,” het sy gesê.
“Ons sal meer gereelde gebedsessies hê om seker te maak die vyand wat ons nie noem nie, kry nie weer vastrapplek in Macassar nie.”
Komiteelede was ook betrokke by ’n Menseregtedag-program wat verlede Dinsdag (21 Maart) by die E-woonstelblok aangebied is. Volgens September is jonger kinders – veral meisies – by die program, wat op veiligheidsbewusmaking gefokus is, betrek. Die program het ’n inleiding tot Menseregtedag, ’n sessie oor selfverdediging en -tegnieke, praatjies deur maatskaplike werkers oor kinderregte en verantwoordelikhede en korrektiewe dienspersoneel oor boeliegedrag sowel as middagete en peuselhappies ingesluit.



