Christo van den Berg is slaggereed om in Augustus vir die derde keer agt maratons binne agt dae vir liefdadigheid aan te pak.Foto:

Credit: SYSTEM

In Augustus, gaan ’n veteraanatleet vir die derde keer agt maratons binne agt dae vir liefdadigheid aanpak. Dié keer gebeur dit in Namakwaland.

Die kranige atleet, Christo van der Berg (50), pak hierdie avontuur weer ten bate van Solidariteit Helpende Hand aan.

Sy vorige twee avonture was ook reuse uitdagings en hy het dit aangepak ná ’n lang herstelproses van ’n ernstige kniebesering. Hy het in 2021 die Suid-Afrikaanse eweknie van die Spaanse Camino de Santiago onder die vaandel van Run for Hope aangedurf. Hy het toe ook agt maratons in agt dae voltooi om Solidariteit Helpende Hand te bemagtig om daagliks meer as 8 000 hulpbehoewende kleuters te help voed. Dié tog het ’n stewige R77 000 ingesamel.

In 2022, het hy ten bate van Helpende Hand se projekte vir bejaardes aan Run for Hope deelgeneem en dié roete, wat oor nege bergpasse gestrek en sy eie uitdagings ingehou het, het heelwat verskil van 2021 s’n. DistriksPos & Helderberg Gazette het oor die Strand-inwoner se pelgrimstog van hoop ten bate van behoeftige oumense berig (“Al drawwende om vergete oues te help,” 17 Augustus 2022). Die ywerige drawwer het van Saterdag 1 tot 8 Oktober verlede jaar manalleen agt marathonne in agt dae van Ashton tot Clanwilliam voltooi.

“Ons weet nie altyd watter uitdagings die mense rondom ons beleef nie. Weerlose bejaardes kan nie vir hulself baklei nie, en sommiges sit in kamertjies en vereensaam. Ek gebruik my pelgrimstog om blootstelling te gee aan Helpende Hand se missie om na ons bejaardes om te sien,” het hy destyds oor 2022 se tog gesê.

Solidariteit Helpende Hand se Wes-Kaapse streek, Van der Berg en die Run for Hope-span, het onlangs die ACVV se Strand-dienssentrum besoek. Volgens Alisha de Lange, Helpende Hand Wes-Kaapse streeksorganiseerder, was die fokus in 2022 spesifiek op weerlose en eensame bejaardes en het hulle met hul besoek R10 000 van die byna R70 000 wat Van der Berg met die 2022 maratons ingesamel het aan die dienssentrum oorbetaal. Sy het tydens die geleentheid beklemtoon waarom bejaardes vir Helpende Hand so belangrik is.

“Tydens ons besoek aan die Strand-dienssentrum het die bestuurder van die dienssentrum genoem dat hulle nie hul toelaes van die staat ontvang nie. Daar is bejaardes wat R5 of R10 per maand afbetaal aan hul jaarlikse lidmaatskapfooi van R170. Baie van hulle is eensaam en woon onder moeilike omstandighede. Dit het ons streek laat besluit om by die Dienssentrum betrokke te raak en dit was die ideale plek om die Run for Hope-span te betrek,” het De Lange gesê.

Indien jy ’n virtuele marathon saam met Christo wil hardloop of stap vir liefdadigheid, besoek www.runforhope.co.za vir meer inligting.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article