Macassar-gemeente van die Calvyn Protestantse kerk het ’n lang en trotse geskiedenis

Ds. Steven-John Bam, die huidige moderator van die Calvyn Protestantse kerk van Suid Afrika.


Die Macassar-gemeente van die Calvyn Protestantse kerk het Dinsdagaand 4 April hul 50ste verjaarsdag met ’n dankseggingsdiens gevier.

Die kerk se moderator, ds. Steven-John Bam, was die gasprediker vir hierdie geleentheid. Ds. Bam het tydens sy preek telkemale verwys na die enorme rol wat dié gemeente tydens die troebeljare van Apartheid gespeel het.

Ds. Darrell Mackriel, ’n oudleraar van die gemeente, het gelukwensinge namens die moderatuur oorgedra. Hy het ook talle staaltjies van sy diensjare in Macassar vertel.

Ds. Johann Magerman, wat in hierdie gemeente grootgeword het, het in sy hoedanigheid as voorsitter van die Ringkommisie gelukwensinge namens die Ring van Sarepta oorgedra. “As ek by hierdie kerk instap, voel dit of ek tuis is,” het Magerman gesê.

Die Macassar-gemeente van die Calvyn Protestantse kerk is op 4 April 1973 onder leiding van wyle ds. D.R. van den Heever gestig.

Die eerste kerkdienste van die gemeente het by lidmate se huise en later in tente plaasgevind. Namate die ledetal mettertyd gegroei het, is dienste en alle gepaardgaande aktiwiteite later na ’n klaskamer by die Laerskool Macassar verskuif. Die gemeente se nuwe kerkgebou in Fahstraat is Sondag 12 Augustus 1979 ingewy. Die moderator en stigter van die kerk, wyle dr. I.D. Morkel, was die gasprediker tydens hierdie gewyde geleentheid.

Die Calvyn Protestantse kerk van Suid-Afrika is op 15 Oktober 1950 gestig toe dr. Morkel en ’n aansienlike groep predikante en ouderlinge weggebreek het van die Nederduits Gereformeerde Sendingkerk (N.G.S.K.) vanweë laasgenoemde se openlike steun aan die stelselsel van rassediskriminasie en hul blatante ondersteuning aan die Apartheidsbeleid van die Nasionale Party-regering.

Van die vroeë lede sluit in die families Jansen, Faviers, Appollis, Visser, Ambrose, Fransman, Magerman, Adams en Johnson. ’n Groep gebedskringlede van die Matroosfontein-gemeente onder leiding van wyle suster Fransina Cupido het in die vroeë sewentigerjare op ’n gereelde grondslag na Macassar gereis om kerkdienste in die armoedgeteisterde en onderonwikkelde gemeenskap te hou.

Ds. Van den Heever, wat in daardie stadium die leraar van Matroosfontein was, het gevolglik die eerste deeltydse leraar van hierdie nuutgestigte gemeente geword.

Intussen is wyle evangelis John Magerman deur die kerk aangestel om die gemeente op ’n deeltydse basis te bedien.

Baie ouer lidmate onthou steeds die nederige beginjare van die Macassar-gemeente. Die Calvyn Protestantse kerk het spoedig ’n merkwaardige invloed binne die plaaslike gemeente en omliggende gebiede gehad – veral met die totstandkoming met die jeugbrigade. Hierdie diensliggaam kon met reg beskou word as absoluut fenomenaal binne die gemeenskap en sodanig in die gemeente as sulks.

Talle jongmense – veral kinders wat in die sewentigerjare by die jeugbrigade aangesluit het – het gevolglik lidmate van die kerk geword.

Gereelde parades was altyd groot geleenthede vanweë die absolute ywer, dissipline en professionaliteit van hierdie jong seuns en meisies.

Die jeugbrigade was nié net in Macassar gewild nie. Trouens, hulle was gereeld die wenners in baie nasionale kompetisies, terwyl hul orkes gereeld na geleenthede genooi is – veral die jaarlikse opening van die Liggiefees in Somerset-Wes.

Die Macassar-gemeente het sedertdien toenemend gegroei. Ander families wat in die laat sewentigs aangesluit het, sluit in die families Cupido, Magerman, Louw, Cogill, Beukes en ons, die Jacksons, wat in Junie 1979 by die gemeente aangesluit het. Vele herinneringe van daardie tyd is toe ons uit die Strand na Macassar verhuis het en by die nabygeleë Primêre Skool Macassar ingeskryf is. Omdat ons in Akkerstraat gewoon het, was laasgenoemde skool die vanselfsprekende keuse om ons skoolloopbaan voort te sit. Toeval wou dit so hê dat ’n familievriendin by ons gewoon het en ’n lidmaat van die CPK Matroosfontein-gemeente was. Gou het sy gehoor dat haar plaaslike gemeente ’n klipgooi ver was, en ons gesin het gevolglik lidmate geword.

In retrospek het die Calvynse kerk in Macassar inderdaad ’n ryke en waardevolle geskiedenis, deels vanweë die aktiwiteite van die plaaslike jeugvereniging. Die gemeente het ’n uiters progressiewe en lewendige jeuggroep gehad met ’n kollektiewe leierskap, onder wie Paul en Vernon Endley, Heinrich en Johann Magerman, Andrew Adams en talle ander. Die jeugvereniging, wat veral tussen 1985 en 1994 aktief was, is grootliks gedryf deur die motivering vir die stigting van die breë Calvyn Protestantse kerk van S.A. en die ongeregtighede wat in hul leeftyd (35 jaar later) steeds voortgeduur het.

Sedert die totstandkoming 50 jaar gelede, is die Macassar-gemeente deur verskeie predikante bedien, onder wie ds. Peter Klink, Darrel Macriel, Saul October, Tommy Beukes en Vernon Endley.

Die gemeente word sedert 2015 deur ds. Benny Martin bedien.

Ten slotte is dit vandag steeds ’n absolute vreugde en seën om vandag, ná 44 jaar, met die Calvyn Protestanste kerk van Suid-Afrika, en in besonders die Macassar-gemeente, geassosieer te word.

Marie Paulse, stigterslid van die Macassar-gemeente.

Wyle dr. Isaac Dawid (I.D.), stigterslik van die Calvyn Protestantse kerk van Suid-Afrika.

Ds. Benny Martin, huidige leraar van die Macassar-gemeente.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article