’n Mnr. en Mej. Helderberg-skoonheidskompetisie vind volgende maand (Junie) in Somerset-Wes se stadsaal plaas met die doel om geld vir ’n talentvolle jongman se sportdroom in te samel.
Rachmat Valentine, ’n boorling van Strand, reël al die afgelope sewe jaar die Mnr. en Mej. Helderberg-kompetisie en het vanjaar die doelwit vir haarself gestel om R60 000 met die kompetisie, wat op Saterdag 3 Junie plaasvind, vir Ethan Swartland, ’n gr. 11-leerder aan die Hoërskool Hottentots-Holland, in te samel.
Swartland, wat in raakrugby uitblink, is in Maart vanjaar gekies om Suid-Afrika in Julie by ’n raakrugbytoernooi in Engeland te gaan verteenwoordig.
“Hy is lid van ’n span van sewe, maar is die enigste wat uit minderbevoorregte omstandighede kom en nie die geld het om aan die toernooi deel te neem nie.
”Ethan moet R60 000 vir sy vliegtuigkaartjie, kos en verblyf oorsee insamel. Dit is waarom ons vanjaar se skoonheidskompetisie wil hou,” sê Valentine.
Swartland het by die Wes-Kaapse Islanders-raakrugbyspan aangesluit. Die span het die nasionale kampioenskap in Johannesburg gewen.
Ethan is juis daar gekies om aan die raakrugby-wêreldbekertoernooi in Engeland deel te neem.
Valentine sê meisies en jong vroue van tussen drie en 27 kan aan een van die vyf afdelings van die Mej. Helderberg-kompetisie deelneem.
Die seuns en jong mans wat vir Mnr. Helderberg wil inskryf, moet tussen die ouderdomme van 12 tot 27 wees.
Een van die vereistes is dat ouer belangstellendes nog nie kinders moet hê nie en ongetroud moet wees.
“Ek het na al die skole in die Helderberg uitgereik en elkeen gevra om vyf kinders elk vir die kompetisie in te skryf. Inskrywings kos R100 per deelnemer. Dit sluit baie goed in, soos ’n kroon en geskenkpakkies. Alles wat die deelnemers kry, is gewis meer werd as die R100 wat hulle betaal,” spog Valentine.
Toegang vir die opwindende kroningsaand in die stadsaal in Somerset-Wes beloop R60 per persoon. “Indien mense vooraf kaartjies koop, kan hulle bespaar en sal dit net R50 per persoon kos,” voeg Valentine by.
- Vir meer inligting oor die Mnr. en Mej. Helderberg-skoonheidskompetisie, of om die kompetisie met ’n borgskap te ondersteun, kontak Rachmat Valentine by 083 218 8884 of 063 438 9359.



