Ashwin Hammers, wat tereggestaan het weens die wrede moord op Faranaaz Mentor, is verlede week in die Kaapse hooggeregshof gevonnis.
Dié 35-jarige is altesaam 78 jaar gevangenisstraf opgelê nadat hy op 11 aanklagte, insluitend huisbraak met die doel om ’n misdaad te pleeg, moord, drie aanklagte van poging tot moord asook ontvoering, twee aanklagte van aanranding en brandstigting, skuld beken en ’n pleitooreenkoms met die staat aangegaan het.
Hy sal nou ná 25 jaar agter tralies eers in aanmerking kom om aansoek te mag doen vir parool. Uit die 11 aanklagte waarop hy tereggestaan het, is die moord op Mentor die hoofklag.
Die 32-jarige slagoffer van Sercorpark is op ’n Donderdagaand op 25 Februarie 2021 in Erijaville vermoor, waarna die lyk van dié jong ma van drie uit ’n brandende agterplaaswoning in Jurieslaan gehaal is (“Met hande agter rug gevind,” DistriksPos, 4 Maart 2021).
DistriksPos het voorheen berig dat die polisie ontbied is nadat die huiseienaars omstreeks 18:50 besef het dat die wendyhuis in hul agterplaas aan die brand is en ’n geskree uit die brandende woning gehoor kon word.
Die brand is met behulp van brandbestryders en gemeenskapslede geblus en die deur van die wendyhuis is oopgebreek.
Mentor is uit die woning gehaal. ’n Kussingsloop was oor haar kop getrek en sy was in slegs haar onderklere geklee. Haar hande was agter haar rug vasgemaak, haar voete was vasgebind, en sy het verskeie beserings aan die gesig gehad. Sy is op die toneel dood.
Die oorledene was saam met twee vriendinne en Hammers toe die voorval plaasgevind het.
gesoek na selfoon
In die aanhef het Hammers erken hy en die drie slagoffers het die meeste van daardie noodlottige Donderdag saam deurgebring, en van hulle het saam Mandrax gerook. Later die middag was sy selfoon soek en hy het die vriendinne daarvan beskuldig dat hulle sy selfoon gesteel het. Hy het hulle in die wendyhuis aangehou en met ’n mes gedreig en ondervra en beveel om die selfoon te oorhandig.
Nadat die vroue ontken het hulle het die selfoon geneem, het hy aggressief geraak en hulle te lyf gegaan. Hy het aan een van die vriendinne die opdrag gegee om die ander twee – insluitend die oorledene – met tou vas te bind en daarna het hy haar vasgebind. Omdat die tou waarmee Mentor vasgebind was, losgekom het, het hy haar aangesê om die ander twee te deursoek. Nadat niks by hulle gekry is nie, het Hammers Mentor weer vasgebind. Daarna het hy kussingslope oor hul koppe getrek en een van die vriendinne gedwing om ’n mengsel van bleikmiddel en Mandrax te drink. Hy het Mentor se kop met sy stewels getrap, ’n tou om haar nek vasgemaak en dit styfgetrek totdat sy leweloos op die vloer gelê het.
oorsaak van dood
’n Forensiese patoloog het Mentor se doodsoorsaak as “in ooreenstemming met versmoring weens ’n kombinasie van verwurging en/of versmoring met trauma aan die kop as ’n bydraende faktor” beskryf.
Hammers het die woning aan die brand gesteek voordat hy van die toneel af gevlug het.
Die twee vriendinne het daarin geslaag om deur ’n venster uit die geslote wendyhuis te ontsnap.
Hammers, wat toe 33 jaar oud was, is Dinsdag 2 Maart 2021 ná verdere ondersoek aanvanklik op aanklagte van moord, brandstigting en twee aanklagte van poging tot moord aangekeer.
Met Hammers se eerste hofverskyning op 4 Maart daardie jaar het verteenwoordigers van die Vroue in Aksie-beweging buite die Strand-landdroshof aan ’n plakkaatbetoging vir geregtigheid en teen sy borgtog deelgeneem (“Vroue betoog ná grumoord,” Distrikspos, 11 Maart 2021).
verhoor in 2022 begin
Die saak is op 19 November 2021 vir die voorverhoorkonferensie op die hooggeregshofrol geplaas en het van Maandag 29 Augustus tot Donderdag 15 September 2022 geduur.
Hammers is verlede Dinsdag (2 Mei) ’n “regverdige” vonnis opgelê: 12 maande gevangenisstraf vir huisbraak met die doel om misdaad te pleeg; 25 jaar vir moord; 30 jaar vir poging tot moord; 15 jaar vir ontvoering; drie jaar vir aanranding en vier jaar vir brandstigting.
Tydens die verhoor het dit aan die lig gekom Hammers was reeds in hegtenis en tot 10 jaar tronkstraf gevonnis vir die onwettige besit van ’n vuurwapen en poging tot moord nadat hy op polisiebeamptes losgebrand het toe hulle hom in hegtenis wou neem.
Volgens luitenant-kolonel Franklin Plaatjies, speurhoof van die Strand-polisie, was dit ’n moeilike saak om te ondersoek. “Ons het die polisieondersoek met spanwerk aangepak. Die moordtoneel is gefynkam en leidrade is opgevolg om ’n suksesvolle inhegtenisneming te verseker – drie weke nadat die beskuldigde gevlug en later aangekeer is,” het hy gesê.
gemeenskap ‘bly’ oor vonnis
Plaatjies, wat sy leiding as ondersteuner aan die ondersoekbeampte, adjudant-offisier Gcobani Stemela, gebied het, het ’n pluimpie aan sy kollega gegee wat hom nie net puik van sy taak gekwyt het nie, maar die gemeenskapsdruk tot sy voordeel gebruik het.
“Hoewel ons nie die mikpunt van ’n lewenslange vonnis gehaal het nie, is ons steeds trots op die uitkoms.”
Zorah Motasi, voorsitter van die Vroue in Aksie-beweging, sê hulle is saam met Mentor se familie en naasbestaandes bly oor die vonnis.
“Hoewel ons gehoop het op lewenslange tronkstraf, waardeer ons die rol wat die betrokke regsverteenwoordigers en die staatsaanklaer vervul het om die beskuldigde skuld te laat beken. Baie strategiese onderhandelings agter die skerms is met die beskuldigde se regsverteenwoordiger aangegaan. Ons is veral bly dat die vonnis op die 11 aanklagte waarvan Hammers aangekla is – ongeveer 80 jaar – so groot is. Dit stuur ’n duidelike boodskap na die kwaaddoeners wat ons gemeenskap al jare lank teister – hulle sal die een of ander tyd met die volle mag van die reg te doene kry en omkoopgeld en die gekonkel met korrupte mense in die polisie en howe gaan hulle nie vir ewig laat wegkom nie.
“Die Strand-gemeenskap het te lank onder die skrikbewind gely van jongens soos ‘Tabakkies’, wat dink hulle is untouchable.”
oorlewendes geprys
Motasi het voorts die ander slagoffers wat die nagmerrie saam met Mentor beleef het en ná die voorval teen hul aanvaller getuig het, geprys vir hul bewonderenswaardige dapperheid en hulle as ware heldinne geprys. Sy het verder hul blydskap uitgespreek oor die geregtigheid wat uiteindelik vir Mentor en haar familie en veral haar ouers geseëvier het en hoop vir dieselfde uitkoms vir die tientalle ander ma’s wat huil oor kinders wat deur gewetenlose moordenaars van die lewe ontneem is en die regstelsel wat dikwels mense faal.
“Faranaaz se familie is deur hel vandat hulle daardie oproep ontvang het dat haar lewelose, vasgebinde liggaam buite ’n brandende agterplaaswoning in ’n naburige woonbuurt lê. Haar ma, pa en twee susters het elke hofsitting in die Kaapse hooggeregshof getrou saam met lede van Vroue in Aksie-beweging bygewoon. Geregtigheid vir Faranaaz was vir hulle alles . . . En die Here het hul hartsbegeertes verwesenlik.”
Mentor se suster, Melissa Palmer, het in die lig van die vonnisoplegging gesê: “Die feit dat hy gestraf is, maak nie die hartseer minder nie, maar bied ’n bietjie vertroosting, veral omdat die gemeenskap ontslae is van die misdadiger.
Volgens Palmer het sy familie nog die geleentheid om hom te gaan besoek, wetend hulle kan hom sien en met hom praat en hy kan hulle antwoord, terwyl hul geliefde se stem ewig stilgemaak is.
“Ons wil ook baie dankie sê aan adv. Jakomien Swart en haar regterhand, adv. Leon Snyman, vir hul uitnemendheid.”
Mentor word oorleef deur haar ma, Rowena (61), pa, Sulleiman Palmer (64), susters Melissa Palmer (39) en Rose Sauls (44) en Mentor se drie kinders – haar 13-jarige seun, Riley Palmer, haar agjarige dogter en haar driejarige seuntjie.




