Inwoners wonder wat is die planne met Broadlandspark se gemeenskapsaal, wat dag ná dag al verder verrinneweer word. Foto: Rick Marais


’n Gemeenskap wat weekliks gebuk gaan onder misdaad moet daagliks vaskyk teen ’n gemeenskapsaal wat stukkie vir stukkie weggedra word en nou al heeltemal vervalle is.

Die Broadlandspark-gemeenskapsaal – of wat daarvan oor is – staan op die hoek van Finkstraat en Bosduif-pad, maar ’n mens moet mooi kyk, anders ry jy verby, want dit lyk nie soos ’n gemeenskapsaal behoort te lyk nie.

’n Inwoner van die omgewing wat verkies om nie sy naam te noem nie, sê die saal is in 1998 deur ’n konstruksie-maatskappy gebruik om bougereedskap te stoor vir ’n huis-projek waaraan hulle gewerk het.

“Die saal is ná die projek aan die gemeenskap van Broadlandspark oorhandig. ’n Paar gemeenskapsleiers het al as voorsitter in beheer van die saal opgetree, maar iewers het die bendes in die gebied die saal begin beskou as deel van hul ‘turf’ en die bendelede het die saal bietjie vir bietjie verrinneweer. Drade om die gebou is weggedra, bakstene en deure is gesteel en die saal het dag vir dag al slegter begin lyk,” vertel die inwoner.

Helene Wilson, wat voorheen in die kinder- en jeugsorgsentrum ACVV Bright Lights se raad was, sê die gemeenskapsaal is ’n teer saak. “Bright Lights het die kontrak vir die saal, maar niks word gedoen nie. Baie vergaderings is al oor die gebou gehou, maar ’n klomp leë beloftes is gemaak en niks het gebeur nie, terwyl die saal al meer in die afgrond in begin gaan het,” sê Wilson.

Die ACVV is op nasionale vlak vir kommentaar genader, maar Distrikspos & Helderberg Gazette is na Raymond Meyer, wat tans as die voorsitter van ACVV Bright Lights optree, verwys.

Meyer was huiwerig om verder uit te brei oor wat by die gemeenskapsaal aangaan en wat die planne vir die toekoms is.

“Ek is nuut hier. Al die besluite van voorheen is deur die ou ‘board’ geneem, en ek wil nie praat as ek nie feite kan staaf nie. Ek kan wel bevestig dat die Covid-19-pandemie baie planne vir die saal in die wiele gery het. Ek is genader deur mense vir toekomstige planne met die saal, maar op hierdie tydstip mag ek nie daaroor praat nie,” voeg hy by.

Die Stad Kaapstad het oop kaarte gespeel en bevestig dat die saal destyds deur ’n private ontwikkelaar gebou is, en ná hul projek aan die gemeenskap geskenk is.

“Besprekings het plaasgevind oor die oordrag van die eiendom aan die Stad Kaapstad, maar die prosesse is nog onderweg om die reëlings te finaliseer,” sê die Stad Kaapstad. Geen verdere kommentaar is verskaf oor planne vir die gemeenskapsaal nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article