Die Abdullah Daggia-saak word binnekort in die hof hervat. Foto:

Credit: SYSTEM

Die Abdullah Daggia-moordsaak, wat Dinsdag 28 Februarie deur die hof teruggetrek is, is eersdaags weer op die rol.

Abdullah Daggia (33) is Woensdag 18 Mei verlede jaar vermoedelik vir sy selfoon op die hoek van Eerste- en Visserstraat in Rusthof doodgesteek (“Steekvoorval in Strand eis lewe,” Netwerk24, 18 Mei).

Die Vroue in Aksie-beweging asook Strand se gemeenskaps­po­lisiëringsforum het vroeër vanjaar hul misnoeë uitgespreek toe die hof die saak teruggetrek het.

Inligting het op ’n onlangse GPF-vergadering aan die lig gekom oor ’n moontlikheid dat die saak weer op die rol geplaas kan word, maar voordat dit kan gebeur, moet sekere dinge eers reggestel word. Die rede waarom die saak juis teruggetrek is, gaan oor monsters van die drie verdagtes wat by die laboratorium ingegee en eers later oorhandig is nadat die speurder glo vir die landdros gelieg het oor die feit dat die monsters reeds ingestuur is.

“Daar is ‘nooit ’n invoice van die laboratorium gekry’ om dit te bewys nie. Van Mei verlede jaar tot Februarie vanjaar is ook baie min werk in daardie saak gedoen, en die hof kon niks anders doen as om die beskuldigdes vry te laat nie,” het Zorah Motasi van die Vroue in Aksie-beweging verduidelik.

Die polisie het op ’n GPF-vergadering, wat op Donderdag 30 Maart gehou is, terugvoer oor die Daggia-saak gegee.

Destyds was daar sprake dat die monsters gekontamineer is omdat al drie verdagtes se DNS-monsters in dieselfde verpakking na die laboratorium gestuur is.

Luitenant-kolonel Franklin Plaatjies van die Strand-polisie het sy eie ondersoek na die bewerings gedoen en by die laboratorium-kenner van die saak vasgestel dat die monsters elkeen apart verpak was en nie gekontamineer is soos bespiegel is nie.

“Die dossier is tans by die polisie, want ons moet een of twee goed vir die nasionale direkteur van openbare vervolging voltooi. Sodra dit gedoen is, kan ons die dossier terugstuur. Die DOV sal dan van hul kant af ’n sertifikaat uitreik en van daar af sal die saak verder beweeg en die verdagtes sal dan in die hof verskyn,” bevestig Plaatjies.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article