Helderbergers kan uitsien na ’n gejubel en gejuig wanneer jeuglede van Die Christen Gemeentes Sir Lowry’s Pass die plaaslike verhoog saam met bekende gospelkunstenaars betree vir ’n onvergeetlike gospelkonsert wat beloof om gehore te bekoor.

Die jeuggroep bied eerskomende Saterdag (27 Mei) die musikale genot, Lofsange & Psalms, volume 1, in die Sir Lowry’s Pass Primêre Skool se saal aan. Die jong gelowiges met ’n vurige passie om die Here te dien sal hul sangtalente met dié van bekende musiekkunstenaars soos Ruben Davids, Henrico Snyders, AJ Wildskut, David Jantjies en Colin Mitchell saamspan vir vuurwarmvertonings wat die verhoog sal laat vlamvat.

Volgens die jeugleier Esmond Welman is die jeuggroep van meer as 100 lede tussen 13 en 21 jaar opgewonde om hul sangtalente met die gemeenskap te deel.

Hy sê benewens die een-in-’n-leeftyd-kans om hul gawes ten toon te stel, dien die konsert ook as ’n geldinsamelingsgeleentheid om fondse los te sing, wat sal help met die jaar se vervoerkostes om die jeuglede weekliks uit elke hoek van die Helderberg na die kerk aan te ry. “Ons kinders is van Grabouw, Strand, Macassar, Sir Lowry’s Pass, Lourensford, Vergelegen en Somerset-Wes, en baie kom uit minderbevoorregte gemeenskappe en moeilike omstandighede – maar hulle is ywerig om die Here te dien. So, om die brandende begeerte aan te voer, wil ons die konsert graag ’n jaarlikse musiekgeleentheid maak,” verduidelik Welman.

Hy spog voorts dat die jeuggroep vir groot dinge beskore is en na groter hoogtes mik nadat hulle onlangs ’n musiekvideo getiteld Saligmaker Medley met die hulp van Kruiskyk.tv opgeneem het.

“Ons wil wys dat ons ons gawes kan uitbeeld,” het Welman, wat ook ’n passievolle gospelsanger en musikant is, gesê. Hy beskou homself egter as net die een wat aan die regte deure geklop het om die opname te realiseer.

Dié 32-jarige jeugleier meen met die jeuggroep se wilskrag en ywer en hul versoek wat op die regte ore geval het, het die hele proses en oefensessie ’n paar uur in die Kruiskyk.tv-ateljee en buite die kerk vir die video-opname geverg.

Die jongelinge het ook ’n begeerte om ’n sopkombuis, wat uit ’n potjie-partytjie ontstaan het, te begin, maar die droom is steeds in die pyplyn en Welman meen die gemeenskap kan uitkyk vir verwikkeling op hierdie gebied in die naby toekoms.

Vir nou nooi hy gemeenskapslede hartlik uit om die musiekkonsert, wat ook die klanke van ’n bekende orkes insluit, te ondersteun. Hulle het al meer as 400 kaartjies verkoop, maar beoog om meer as ’n 1 000 gehoorlede na die saal te lok.

“Ons soek ’n stampvol saal en ons werk hard daarvoor,” sê Welman, wat saam met ander jeuglede selfs kaartjies by belangstellendes aflewer.

Die kaartjies kos R60 per persoon. Die deure open om 16:30 en die konsert begin om 17:00.

. Vir meer inligting, bel vir Welman by 062 733 4967.“>

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article