’n Vergadering wat vroeër vandeesmaand onder die banier van die “Criminal Justice Forum” gehou is, het heelwat positiewe, maar ook negatiewe punte, uitgelig.
Die vergadering is op Dinsdag 9 Mei by die Strand-polisiekantoor gehou en verteenwoordigers van die polisie, die Strand-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), die Strand-landdroshof asook ’n verteenwoordiger van die Vroue in Aksie-beweging het die vergadering bygewoon.
Volgens Niklaas Thysen, woordvoerder van die Strand GPF, was die vergadering se hoofdoel om te praat oor al die hoëprofielsake wat almal van die hofrol geskrap is.
“Ons was baie bly om te hoor dat die Abdullah Daggia-saak weer op die hofrol gaan verskyn. Dis egter nie net dié saak wat baie belangrik is nie, maar talle ander moet ook weer deur die hof en ondersoekbeamptes bekyk word,” sê Thysen.
Daggia is op Woensdag 18 Mei verlede jaar op die hoek van Eerste- en Visser-strate in Rusthof doodgesteek. Die polisie het vroeër vandeesmaand bevestig die saak kry weer die nodige aandag en sal terug op die rol geplaas word (“Daar is weer hoop in Daggia-saak,” DistriksPos & Helderberg Gazette, 10 Mei).
Zorah Motasi, voorsitter van die Vroue in Aksie-beweging, het self die vergadering bygewoon om meer oor die Daggia-saak te hoor, en het gevoel die gekose naam is nie die regte een vir die vergadering nie.
“Die vergadering was ’n polisiëringsforumvergadering met die GPF-bestuur wat die vergadering gelei het. Die Strand het nie ’n ‘Criminal Justice Forum’ wat gestruktureer is soos in die wetgewing voorgeskryf is nie,” verduidelik Motasi.
Sy het onthul sy is ná die vergadering genooi vir antwoorde oor die Daggia-saak en ander belangrike moordsake.
“Ek en my organisasie het ’n groot rol om reg en geregtigheid in die Daggia-moordsaak vir Abdullah se ma, sy familie en vriende sowel as die breë gemeenskap as geheel te sien seëvier. Moeilike vrae is aan die speurhoof gestel en sekere punte wat vir ons kommerwekkend is, is uitgewys. GBV-gevalle is ook op die vergadering bespreek,” sê sy.
Thysen het verduidelik hy tesame met Motasi het dit duidelik aan die polisie asook die Strand-landdroshof se verteenwoordigers gestel dat die gemeenskap kwaad is en sonder hoop gelaat is.
“Die gemeenskappe is van mening dat die regstelsel hulle asook die slagoffers en dié se families gefaal het. Die GPF is van mening dat oortreders swaarder gestraf moet word,” sê hy.
Motasi sê sy en haar beweging hoop vir positiewe resultate in die Daggia- asook die Brancoulin Fritz-saak juis omdat die families sukkel om aan te beweeg en baie swaarkry omdat hul kinders se moordenaars vry rond loop.
Thysen het bevestig die rolspelers sal maandeliks vergader om seker te maak die hof, die polisie, die speurders asook korrektiewe dienste werk op die regte wyse saam om te verseker reg sal geskied en al die belangrike moordsake geniet die nodige aandag.



