Chante Paris, wat in Haumannstraat in Somerset-Wes woon, se hele erf en gedeeltes van die motorhuis is onlangs deur riool oorstroom nadat ’n pyp glo geblokkeer is.


’n Rioolprobleem het die afgelope twee weke kop en skouers in Somerset-Wes uitgesteek en inwoners se lewe hel gemaak.

Twee inwoners, wat onderskeidelik in Mostert- en Haumann-straat woon, is skoon moedeloos nadat hulle verwysingsnommer op verwysingsnommer ontvang en niks daadwerkliks gedoen word om hul probleme met riool op te los nie.

Chante Paris, wat in Haumannstraat woon, se nagmerrie het so twee maande gelede begin toe hulle omtrent al agt keer die Stad Kaapstad se werkers moes kry om die rioolprobleem te kom uitsorteer. Maar op Donderdag 25 Mei was die koeël deur die kerk toe hul hele erf en gedeeltes van hul motorhuis deur riool oorstroom is.

By navraag het dr. Zahid Badroodien, die Kaapstad-metro se burgemeesterskomiteelid vir water en sanitasie, verduidelik die Stad Kaapstad se spanne het glo die probleem van Sondag 28 Mei tot Donderdag 1 Junie opgelos. “Die blokkasies is verwyder en die oorsake is sand, ou lappe, vette en olies. Op Dinsdag 30 Mei het die spanne vermoed dat iets die riool se hooflyn verstop. ’n Opvolg is die volgende dag gedoen en die span het ’n klip verwyder,” sê Badroodien.

“Die gebied is ook ontsmet nadat al die werk om die drein te ontblok, gedoen is. Die spanne het op Donderdag 1 Junie weer ’n finale besoek afgelê om te kyk of al die probleme opgelos is.”

Paris is van mening dat dit alles onwaar is nadat die Stad ook vir haar e-pos gestuur het om te bevestig dat die werk voltooi is. “Hulle (Stad Kaapstad) het my per e-pos terugvoer gegee, maar dit maak nie sin nie. Niks is by die drein uitgetrek nie. Hulle kon nie eens die drein skoonmaak of disinfekteer nie. Dis baie gevaarlik; ons kan siek raak daarvan,” kla Paris, wat moeg is vir die heen-en-weer-storie.

Christo Smal kla die riool loop nou al die afgelope drie weke by stormwater-dreine in Mostertstraat uit.

“Dit gebeur so gereeld. Elke derde maand dan bars die waterlyn en dan maak hulle dit net weer reg. Ek het die kwessie deurgestuur aan die Stad Kaapstad, maar hulle het my ingelig dat my verwysingsnommer gesluit is, maar die probleem is glad nie opgelos nie,” voeg Smal by.

Die Stad se Water- en Sanitasiedepot het bevestig dat daar ‘n stukkende rioolpyp is wat die verstoppings veroorsaak. “Die spanne sal voortgaan om intussen ondersteuning aan die kliënt te verskaf totdat die herstel voltooi is,” bevestig Badroodien.

Christo Smal kla dat riool al die afgelope drie weke uitloop by stormwaterdreine in Mosterd straat. Foto:

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article