Disa 95.9 FM het sy eerste sportdag op Saterdag 27 Mei op die Hoërskool Grabouw se sportterrein gehou.
Volgens Elzette Esau, ’n programbestuurder by Disa FM wat die sportdag gereël het, was dit ’n dag van danksegging om erkenning aan God te gee.
“Disa FM is ’n Christelike radiostasie in die Overberg, en alles wat ons doen, draai om God. Ons wil almal wat die dag ondersteun het, hartlik bedank. Dit was ’n dag waarop kinders van God kon saamtrek en dit was lekker om te sien dat gelowiges net soveel pret kan hê,” sê Esau.
Sport-aktiwiteite soos eier-en-lepel-resies, toutrek, netbal, sokker, hekkies, 50 m- en 100 m-wedlope is op die sportdag aangebied, maar die hoogtepunt was die Bybel-afloswedloop.
“Die stalletjies het groot aftrek gekry. Iets van alles was beskikbaar: groente, boeke, klere, drukwerk, springmielies, braaivleis, Meksikaanse Taco’s en lekkers, om net ’n paar te noem.”
Disa FM wil die geleentheid gebruik om Matthew Bobby Stuurman (Langes van Arendsvlei) te bedank nadat hy as seremoniemeester opgetree het.
“Hy het die deelnemers behoorlik met sy energie en lewenslus gemotiveer, om nie te praat van sy sin vir humor nie. Dankie ook aan die onderburgemeester, John Michaels, wat die prysgeld geborg het.
“Raadslid Denzil Jacobs was ook teenwoordig om sy ondersteuning te toon,” voeg Esau by.
Verder bedank hulle al die ander sakeondernemings wat ook die dag ’n sukses gemaak het.
“Die trompoppies van Grabouw-klub en Helderkruin Primêr het ons ook met hul passies en talent vermaak.
“Ons wil graag al ons borge vir hul ondersteuning bedank – hulle het gewis tot die dag se sukses bygedra.
“Ons gaan die sportdag van nou af ’n jaarlikse instelling maak,” sluit sy af.



