Agter (van links) is: Gerrie van Niekerk, Francois Deyzel, Bertus van Schalkwyk en ds. Frikkie van Niekerk, almal van die Strand Moedergemeente, saam met Werner Eiselen en dr. Bernhard Ficker van Somerset Wes en ds. Gerhard Mahne van Parow (die skrywer van die boek Die Kerk met die Verkeerde Baas). Voor: Matthys Streicher van Stilbaai.


Die plaaslike gemeenskap is goed verteenwoordig by die Koinonia-sinode van NG gemeentes, wat onlangs in Vanderbijlpark gehou is.

Dit is ’n kategoriale sinode wat nie deur geografiese grense gedefinieer word nie. Die tema was “Saam op weg na Kerkreformasie”.

Die Koinonia-sinode is die tuiste van dolerende gemeentes van die NG kerk, waarvan daar tans bykans 100 is. Tans is die Strand NG Moedergemeente die enigste dolerende gemeente in die omgewing, hoewel ’n groot aantal individuele lidmate by verskillende NG gemeentes is wat doleer.

Doleer beteken om te treur, en dolerende lidmate en gemeentes treur oor die liberale, humanistiese en onbybelse dwaalleer wat by die algemene sinode deur liberales die NG kerk ingebring is.

Die Koinonia-sinode se deeglik voorbereide sakelys het 100 bladsye behels, waarvan heelwat deur plaaslike inwoners geskryf is. Ná deeglike beplanning is verreikende voorstelle aanvaar ten einde die vestiging en groei van die doleer-beweging onder behoudende NG gemeentes en skrifgetroue lidmate te verseker. Tydens die Konoinia-sinode is die boek Die Kerk met die Verkeerde Baas deur ds. Gerhard Mahne amptelik bekend gestel.

Meer inligting oor hierdie “Familie van Reformerende NG kerke” en die Koinonia-sinode is beskikbaar op die webwerwe www.koinoniasinode.org.za asook www.glodiebybel.co.za.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article