“Frankie was lief vir praat, en almal hier kan daarvan getuig, maar sy stem het ewig stilgeword. Nooit weer sal ons hom uit oudergewoonte hoor sê, ‘Hoor gou hier’, ‘Jy verstaan nie’ of, soos hy dikwels gedoen het, aan jou ’n vraag vra en nie ophou praat sodat jy ’n antwoord kan inkry nie.”
So lui die hartroerende huldeblyk van Zelda Mentoor wat met liefde by die gedenkdiens van Franklin Dominic Mentoor oor haar geliefkoosde skoonbroer gepraat het.
Talle roubeklaers het Donderdagoggend (29 Junie) die gedenkdiens ter viering van die lewe van die geliefde Helderzicht-inwoner en gerespekteerde oudonderwyser bygewoon om hul laaste eer te betoon.
Franklin, oftewel “Frankie” soos baie na hom verwys het, is skielik in vroeë oggendure verlede Vrydag (23 Junie) weens ’n beroerte in die hospitaal oorlede. Dié 59-jarige se dood kom slegs 10 maande ná die sterfte van sy broer, Pieter wat verlede Augustus oorlede is.
Frankie se gedenkdiens is deur Eerwaarde Enrico Heuvel by die All Saints Anglikaanse-katedraal in Somerset-Wes gelei en sy dogter Sancha het die skriflesing, Johannes 14:1-6, behartig. In aanvulling tot die fokusteks wat handel oor Jesus se afskeidswoorde aan sy dissipels kort voor sy dood, het Heuvel met ’n kort en kragtige boodskap konteks gebied aan die Here se belofte.
“Maar hoekom is afskeid so pynlik? Want dit is eers wanneer ons met mense moet skei dat ons besef hoe lief ons vir hulle is. Liefde ken nie sy eie dood tot die uur van skeiding nie. Om die waarheid te sê, die volle waarde van ’n vriend of iemand, ’n broer of suster, word nie duidelik voordat hy of sy van ons weggeneem is nie. Hoekom ons juis so lief is vir die persoon is heel waarskynlik duideliker in hul afwesigheid. Wat waar is van enige afskeid, is nog meer waar van hierdie afskeid, wat die dood genoem word. Geliefdes se dood is die mees onherroeplike afskeid van alle tye, want hierdie keer sal ons geliefde nie terugkeer nie. En in die geval van skielike dood word ons nie eers kans gegun om te groet nie. En ons wil baie graag afskeid neem van ons geliefdes op ’n wyse wat by ’n finale afskeid pas. En nou sal ons nooit die kans kry om alles te sê wat in ons harte was nie. Ons sal nooit vir ons geliefdes kan sê hoeveel hy of sy vir ons beteken het nie. En as daar konflik was, sal ons nooit vrede kan maak en daardie persoon se vergifnis kan ontvang nie,” het Heuvel gepreek.
“Die gospel wys vir ons dat Jesus die pyn van die dood en vertrek met sy vriende met ons gedeel het. Maar Hy het vir hulle gesê terwyl ons vanoggend in die skrif lees, moenie bekommerd wees nie, moenie ontsteld wees nie, glo in God en ook in My, want Ek gaan vir julle ’n plek voorberei. Ja, jy het dalk nou hartseer. Jy kan op hierdie oomblik pyn hê. Maar, Hy sê ‘Ek sal julle weer sien en wanneer Ek julle weer sien sal julle harte bly wees’.”
Frankie is ’n Somerset-Wes-boorling wat as die jongste van sewe sibbe op 22 September 1963 gebore is. Hy het sy skoolloopbaan aan Kathleen Murray Primêre Skool in Grabouw voortgesit en in 1982 aan Hoërskool Macassar gematrikuleer. Ná skool het hy sy B.Econ en B.Ed kwalifikasies aan die Universiteit van Wes-Kaapland verwerf en vir meer as drie dekades aan ’n roemryke onderwysloopbaan toegewy.
Hoewel hy meeste van sy onderwyservaring en jare by Hoërskool Gordon opgedoen het, het hy ook by Girls and Boys Town in Macassar en by ’n aandskool in Lwandle uitgehelp. Frankie het ná 31 jaar diens aan Hoërskool Gordon die tuig neergelê en in 2018 uit die onderwys getree.
Volgens Bernard Simons, wie se naam as voormalige skoolhoof oor die jare sinoniem geword het met die plaaslike hoërskool, het Frankie sy loopbaan saam met hom in 1987 by Gordon begin en handelsvakke aangebied. Weens swak gesondheid moes hy egter op vroeë pensioen gaan.
“Franklin was ’n uitstekende bedryfsekonomie-onderwyser. Hy was die skool se landloop-afrigter en vir jare onder sy bekwame leiding het verskeie van die leerders hul provinsiale kleure behaal. Hy het ook uit sy eie sak vir die leerders skoene en klere gekoop wat nie gehad het vir die sport nie. Frankie was ’n geliefde kollega en vriend. Hy was ’n mense-mens en ’n man met ’n goue hart. Sy heengaan was ’n skok en sal ’n groot leemte laat,” het Simons gesê.
Frankie word oorleef deur sy vrou, Rozanne, twee kinders, Sancha en Wesleigh, asook vyf oorblywende sibbe en hul eggenote en kinders.
“Ons hou vas aan die goeie herinneringe, grappies en die lewe wat hy geleef het. Hy sal onthou word vir sy eienaardige maniere, sy talle stories en daardie rooi City Golf wat hy vir byna 30 jaar gery het,” het Rozanne gesê.
“Die familie wil graag hul dank uitspreek teenoor elkeen wat naburig opgetree het, en as ’n vriend van Franklin.”



