PJ en Geo Botha, finansiële kenners en mede-aanbieders van die gewilde kykNET-reeks Welvaartskeppers, het pas hul eerste boek, Word Ryk, Bly Ryk vrygestel, wat nou aanlyn en in alle groot boekwinkels landwyd beskikbaar is.
In hierdie insiggewende boek leer hulle gewone Suid-Afrikaners hoe om in ’n uitdagende omgewing geld te maak en dit te laat groei.
Die skrywers se goeie kundige finansiële raad, wat daarop gemik is om goeie gewoontes te kweek, rig jou fokus en ondersteun jou op jou reis na rykdom.
Hulle skryf ook jy hoef nie noodwendig jou eie sakeonderneming te begin om welvaart te skep nie. Volgens hulle is dit hoe jy oor jou geldsake dink wat saak maak, en jy sal ook vinnig agterkom rykdom gaan oor meer as net geld.
As jy wel jou eie onderneming het, sal hierdie boek jou herinner aan die groot verantwoordelikheid wat jy het en die belangrikheid daarvan beklemtoon om na jou kliënte te luister en jou werknemers soos goud te behandel.
Elke huishouding behoort in ’n boek soos hierdie te belê, wat nie net finansieel georiënteerd is nie, maar ook beklemtoon dat jou selfbeeld, nederigheid en geloof in jouself ’n groot rol in jou geldsake vervul.
Geo en PJ glo een van die grootste foute wat gesinne ten opsigte van geld maak, is om nie daaroor te praat nie. “Deur kinders van kleins af by finansiële sake te betrek en aan hulle te verduidelik hoe ’n begroting werk, leer hulle hoe om geldsake te hanteer,” sê PJ.
Geo stem saam: “My pa het ons van kleins af by gesprekke oor geld betrek, en dit het gewis ’n groot invloed op ons lewens gehad.”
Onderwerpe soos suksesvolle aftrede, pensioen, beleggings, trusts, testamente en die bepaling van die nalatenskap wat jy wil vestig, word ook in hierdie merkwaardige publikasie bespreek.
Hierdie is gewis ’n boek wat jy jou eie kan maak en waar jy na strategieë kan soek wat by jou aanklank vind en beheer oor jou finansiële toekoms neem.
Geo is ’n strategiese dromer en geïnteresseerd in die sielkunde van besluitneming. Hy woon tans in Somerset-Wes saam met sy vrou en babaseuntjie. Die egpaar is ywerige stappers en fietsryers en neem dikwels aan drie-kamp deel. Hulle geniet dit ook om plaaslik en oorsee te reis. Omdat hy altyd daarna streef om homself persoonlik en professioneel te verbeter, lees Geo graag biografieë en selfhelpboeke, en as ’n kosliefhebber geniet hy dit om tuis te kook of om nuwe restaurante te probeer.
PJ is ’n analitiese denker wat fokus op die tegniese aspekte van finansies. Hy woon in Pretoria saam met sy vrou en twee kinders. Hy geniet dit om gholf te speel, asook om saam met sy gesin te reis en afgeleë plekke te verken. Sy toekomsplanne sluit in om homself voortdurend op ’n persoonlike en professionele vlak te verbeter en waarde toe te voeg tot sy kliënte se lewens.



