Action Society se Kaylynn Palm (links) en Ian Cameron (agter) saam met Niklaas Thysen van die Strand-gemeenskapspolisiëringsforum (heel regs) en naasbestaandes van die moordslagoffer Nadia Lotz insluitend haar tannie Fransina Lotz, niggies Louise Lotz en Sylvia Scheepers, pa Hendrik Lotz, en niggie Diana Lotz. Foto: Jamey Gordon


Die beskuldigde Charles Apollis wat van die grumoord op Nadia Lotz aangekla word, het op Dinsdag 11 Julie weer in die Strand-landdroshof verskyn.

’n Vreedsame betoging het voor die hofverskyning plaasgevind toe lede van die Strand-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) versterk deur verteenwoordigers van Action Society insluitend die gesig van dié burgerregteorganisasie, Ian Cameron, en die Cape Coloured Congress saamgespan het ter ondersteuning van die moordslagoffer se familie asook ander slagoffers wat voorheen deur die moordbeskuldigde geteiken is.

Ná die betoging het naasbestaandes van Lotz hul misnoeë uitgespreek oor hulle met die hofverskyning in B-hof nie binne toegelaat is nie.

Lotz se pa, Hendrik, wat onder ander familielede is wat met elke hofverskyning uit Malmesbury na die plaaslike hof op die hoek van Gordonsbaai-rylaan en Altenastraat reis, het hul gesamentlike ontevredenheid bekend gemaak in ’n video wat deur Action Society geneem en op sosiale media gepubliseer is.

“Ons het gehoop iets sou vandag gebeur, en toe ons by die hof aankom, is ons nie binne toegelaat nie. Ons is versoek om buite te wag en van die deur af weg te beweeg. Dis wat ons toe maar gedoen het,” voer die bedroefde ouer in die beeldmateriaal aan.

“Ons het navraag gedoen oor wat aangaan; hoekom is ons nie in die hof toegelaat nie, hoekom kan ons nie hoor wat in die hof gesê word en gebeur nie?”

Die ouer het verder uitgebrei dat daar by navraag deur hofpersoneel aan hulle verduidelik is dat hulle weens beperkte ruimte in die mobiele hof nie binne toegelaat is nie. Die situasie is onder die aandag van die hoof- landdros, Veronica da Silva, gebring, wat na bewering die familie se reg om deel te wees van hofverrigtinge erken en verseker het dat hulle met die volgende hofverskyning wel toegelaat sal word.

Die saak is verlede Dinsdag tot Maandag 14 Augustus vir ’n streekhofbeslissing uitgestel.

Apollis word aangehou nadat hy met ’n vorige hofverskyning op Vrydag 10 Maart sy borgtogaansoek laat vaar het (“Beskuldigde weier borg,” DistriksPos & Helderberg Gazette, 15 Maart). ’n Petisie wat teen sy vrylating deur honderde gemeenskapslede van Temperance Town onderteken is, is ook op dié dag aan die hof oorhandig.

Apollis staan tereg weens die moord op die ma van sy drie minderjarige kinders. Lotz het op Saterdag 4 Maart die slagoffer van ’n noodlottige mesaanval geword, wat glo uit ’n stryery tussen die oorledene en die moordbeskuldigde gespruit het (“Pa vermoor glo ma van 3,” 8 Maart). Apollis word daarvan beskuldig dat hy die 32-jarige van Temperance Town se keel afgesny het.

Die paartjie het na bewering ’n saamrygeleentheid met die oorledene se vriendin uit die Strand na Gordonsbaai ontvang en was glo op pad huis toe toe hulle in die motor stry gekry het. Die beweerde woordewisseling het glo uiteindelik in die noodlottige mesaanval ontaard.

Strand-polisiebeamptes het omstreeks 18:00 daardie Saterdag op die voorval in Laer Gordonsbaaiweg gereageer. Apollis, wat glo agter Lotz gesit het, het na bewering oor die passasiersitplek geleun en haar keel afgesny. Nadat Lotz glo in die ry uit die bewegende motor gestoot is, is die vriendin, wat agter die stuurwiel was, na bewering met die mes gedreig en opdrag gegee om aan te hou ry.

Lotz is op die toneel dood. Die beskuldigde het hom later by die Gordonsbaai-polisiekantoor oorgegee.

Strand-polisie het by navraag ná sy inhegtenisneming bevestig dat die beskuldigde al voorheen van verskeie geweldsmisdade aangekla is, maar nooit skuldig bevind is nie. Hy was ook ten tyde van die beweerde moord uit op borgtog in ’n poging-tot-moord-saak.

Volgens Cameron plaas Dinsdag se gebeure by die Strand-landdroshof en die uitstel van die hofsaak die kollig op ’n mislukte regstelsel en polisiediens.

“Dié hof het Nadia Lotz en al die slagoffers van die beskuldigde in die steek gelaat deur borgtog van slegs R1 000 aan hom en sy broer toe te staan ??toe hy daarvan aangekla is dat hy ’n ander slagoffer in die nek gesteek het.

“Boonop, in ag genome verskeie ander beskermingsbevele teen hom, en ’n lang geskiedenis van huishoudelike geweld, was hy duidelik ’n gevaar vir die samelewing. Dit toon die polisie se versuim om behoorlike ondersoeke te doen om gewelddadige misdadigers te laat skuldig bevind en van die straat af te kry.

“As die polisie en die departement van justisie hul werk gedoen het, sou Nadia Lotz vandag gelewe het,” het Cameron in ’n verklaring gesê.

“Ná Action Society se ingryping, het die Strand-landdroshof familielede om verskoning gevra en verseker dat die volgende hofverskyning in ’n groter hofsaal gehou sal word sodat familielede die verrigtinge kan bywoon.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article