’n Bekende sangeres het met die blink idee vorendag gekom om handsakke met toiletware te vul en dit te skenk aan ’n organisasie wat daagliks werk met vroue wat gebuk gaan onder huishoudelike geweld.
Volgens Melani Lategan, die projekkoördineerder van Care Protect Invest South Africa (CPISA), was die blink idee dié van sangeres Corléa Botha en sy het met CPISA asook Mamilla Fashions hande gevat om die projek ’n realiteit te maak.
“Dis geen geheim dat geweld teenoor (veral) vroue en kinders ’n enorme probleem in Suid-Afrika is nie. Een uit elke vyf vroue ondervind een of ander vorm van huishoudelike geweld, terwyl 42% van meisies vorms van geweld aanmeld, waaronder seksuele geweld, fisieke geweld, emosionele mishandeling of verwaarlosing. Dis slegs die gevalle wat aangemeld word,” verduidelik sy.
Die doel van die projek is om nuwe of gebruikte handsakke (wat steeds in ’n goeie toestand is), te vul met toiletware en dit aan Care Protect Invest SA te skenk.
“ ’n Lys van die inhoud van die handsakke is reeds saamgestel volgens die behoeftes van huise van veiligheid. Die handsakke word dan aan ons (CPISA) verskaf, en ons voorsien dit aan vooraf geïdentifiseerde huise van veiligheid.”
Sy is van mening ’n gebaar soos ’n handsak met toiletware gee ’n vrou, wat gevlug het uit sulke haglike omstandighede, ’n gevoel van selfwaarde en om iets te hê wat haar eie is.
Lategan moedig vroue aan om self handsakke in te samel deur ’n teepartytjie te hou waarvoor hulle ’n klomp vroue uitnooi en elkeen ’n handsak moet saambring.
“Ons noem hierdie vroue dan die Genadesak Diva’s. Enigiemand kan ’n diva wees, maar dis ook nie nodig nie, as hulle net een handsak insamel en uitdeel of aan ons skenk, is dit ook perfek,” voeg sy by.
’n Afsetgebied vir handsakke en /of inhoud is ook beskikbaar by The Workshop, The Avenues in Dramastraat 1 in Somerset-Wes.
Vir meer inligting oor die Genadesak-projek kan Melani Lategan van CPISA by 061 531 6500 of per e-pos by melani@cpisa.org.za gekontak word vir meer inligting.



