Dit was ’n naweek om te onthou vir die St. George’s rugbyklub, maar vir die Helderberg-rugbyklub was dit een om te vergeet aangesien beide Superliga A-spanne die naweek kontrasterende resultate behaal het.
Die Lulu Boys het 13-3 teen Tygerberg geseëvier in ’n harde stryd wat op die Gustrouw-sportterrein gespeel is, terwyl Berge baie verras het deur 31-20 teen Hamiltons vas te val.
Vir St. George’s was dit ’n wedstryd van twee helftes. Hy het stadig begin, vroeg verdoel en in die res van die eerste helfte nie daarin geslaag om punte aan te teken nie. Maar ná rustyd was dit ’n ander storie toe Nazeem Wood die Lulu Boys op die telbord gesit het met ’n strafskop in die 45ste minuut.
’n Paar plaasvervangings later het Wood nog drie punte met sy stewel bygevoeg en die Lulu Boys het uiteindelik momentum gekry.
In die 71ste minuut het Fazeel Robertson die lyn oorgesteek vir sy eerste drie van die wedstryd vir die tuisspan, wat Wood verdoel het. Op die ou einde was dit genoeg om Tygerberg op ’n afstand te hou, aangesien St. George’s die oorwinning behaal het.
Hierdie naweek het die Lulu Boys ’n blaaskans en hulle sal op Saterdag 29 Julie in aksie wees wanneer hulle die UWC by Gustrouw aandurf.. Ná drie weke as Super A-ligavoorlopers het Helderberg se verswakte eerste span sy eerste wedstryd ná ses agtereenvolgende seges verloor. Sonder sewe van hul beste spelers was Berge aansienlik maerder aan talent en dit het gewis gewys. Hierdie wedstryd op die Stephan-rugbyveld in Seepunt Saterdag 15 Julie het van die afskop af vir die Helderbergers verkeerd verloop.
Hammies was ná vyf minute reeds voor ná ’n hoekdrie, gevolg deur ’n strafdoel en twee verdoelde drieë ná swak verdediging en nog ’n strafdoel weens onnodige foute. Berge se haker, Danie Myburgh, het sy span se rekening in die 34ste minuut met ’n goeie drie geopen. Michael Visser (skrumskakel) het die ekstras bygevoeg en dit met ’n suksesvolle strafskop opgevolg. Rustyd het ná nog ’n Hamiltons-strafdoel aangebreek.
Die losskakel, JJ Stover, het vroeg ná rustyd gedruk. Sake het veel beter vir Berge gelyk, maar die tuisspan het met nog ’n strafdoel geslaag. Berge het egter die laaste sê met ’n hoekdrie deur sy heelagter, Darren Hendricks, gehad (eindtelling 31-20 vir Hammies).
Saterdag is Helderberg gasheer vir Tygerberg op Charles Morkel.



