Hoerkind beloof om plaaslike gehore te bekoor! Foto: Netwerk24

Credit: SYSTEM

Die skywerjoernalis Herman Lategan se blitsverkoper, Hoerkind: Die memoires van ‘n randeier, is deur die teatermaker Margit Meyer-Rödenbeck omskep in ‘n toneelstuk, ’n ware verhaal oor verlies én oorwinning.

Meyer-Rödenbeck is die regisseur van dié onthutsende boek en het ’n sterk span byeengebring om as ‘n kreatiewe ensemble aan dié eenmanvertoning te werk. Die gerekende akteur Geon Nel vertolk die hoofrol. Die titel Hoerkind verwys na die neerhalende kwetswoord wat aan hom as kind toegesnou was, omdat hy buite die eg gebore is. Hy skryf oor sy vroeë grootwordjare in kleurvolle losieshuise vol randeiers (buitestaanders) in Tamboerskloof. Op ses moes hy na ‘n kinderhuis gaan omdat hulle in armoede geleef het. Later trou sy ma, sy stiefpa skiet op hom en probeer hom verkrag. Op 13 beland hy in die kloue van ’n pedofiel, ‘n vooraanstaande Afrikaanse kunsjoernalis. Albei sy ouers word alkoholiste en sterf vroeg. Alkohol- en dwelmafhanklikheid ry hom ook. Op ’n stadium slaap hy op straat. Een aand word hy in sy woonstel gyselaar gehou en met ‘n mes gesteek. Hy verloor byna sy been in ‘n motorongeluk nadat hy op Mannetjies Roux se plaas gaan kuier het en was vir byna ’n jaar buite aksie. Sy foute is volop, maar hy leer soos hy voortbeur. Hierdie is nie ’n verhaal van selfbejammering nie, dit is een van val, opstaan, val en vorentoe beur, kop omhoog.

Meyer-Rödenbeck sê: “In dié teaterstuk leer ken ons Herman as klein seuntjie wat met oorgawe leef, verknog is aan sy ma, maar dan maak omstandighede dit vir hom onmoontlik om by haar te bly. “Sy lewenspad het baie afdraaie en heel dikwels ontrafel dinge. Die deurlopende tema bly die verhaal van een mens wat ten spyte van alles ‘aanhou beweeg en geraasmaak’, vorentoe, met groot sukses. Hoerkind gaan jou bybly en omkrap, want dit is eerlik.”

Hoogaangeskrewe teatername is by dié produksie betrokke, soos Francois Toerien wat die teks verwerk het. Die assistent regisseur en verhoogbestuurder is Jeanne Steenkamp, die klankbaan is deur Coenraad Rall. Die stelontwerp deur Gerrit Snyman en beligtingsontwerp deur John B Swart. Dit word moontlik gemaak deur Suidoosterfees. Geen onder-18s toegelaat nie.

Die vertoning is om 19:30 Vrydag 25 en Saterdag 26 Augustus; en om 16:00 Sondag 27 Augustus op die plaaslike verhoog te sien. Kaartjies kos R200. Vir meer inligting of besprekings, skakel 073 215 2290.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article