Die skywerjoernalis Herman Lategan se blitsverkoper, Hoerkind: Die memoires van ’n randeier, is deur die teatermaker Margit Meyer-Rödenbeck in ’n toneelstuk omgeskep – ’n ware verhaal oor verlies én oorwinning.
Die titel Hoerkind verwys na die neerhalende kwetswoord wat hom as kind toegesnou is omdat hy buite die eg gebore is. Hy is op ses kinderhuis toe. Sy stiefpa het op hom geskiet. Op 13 het hy in die kloue van ’n pedofiel beland. Alkohol- en dwelmafhanklikheid het hom gery.
Een aand is hy gyselaar gehou en met ’n mes gesteek. Sy foute is volop, maar hy leer namate hy voortbeur.
Dié eerlike eenmanvertoning met Geon Nel in die hofrol gaan gehore gewis bekoor. Die vertoning is om 19:30 Vrydag 25 en Saterdag 26 Augustus; en om 16:00 Sondag 27 Augustus) op The Drama Factory-verhoog in Strand te sien. Kaartjies kos R200.
V Vir meer inligting of besprekings, skakel 073 215 2290. Geen onder-18’s toegelaat nie.


