’n Facebook-foto van Dorothea en Johann Foot.

Credit: SYSTEM

Die familie van ’n egpaar van Gordonsbaai, wie se lyke op Maandag 21 Augustus in hul woning in die dorp ontdek is, het verlede Woensdag (30 Augustus) hul laaste eer by ’n gesamentlike begrafnis­diens betoon.

Die paartjie se lyke is in hul woning in Sarnia Place, ’n woonkompleks in Cherry Hills-straat, ontdek.

Die polisie is ontbied nadat die egpaar se “werksmense” na hulle gaan soek het en hul glo nie in die hande kon kry nie.

Sersant Wesley Twigg, ’n provinsiale polisiewoordvoerder, het bevestig ’n geregtelike doodsondersoek is geopen nadat die lewelose liggame van ’n 74-jarige man en ’n 70-jarige vrou ontdek is (“Nog geen deurbraak ná Gordonsbaai-gruvonds,” DistriksPos & Helderberg Gazette, 30 Augustus).

Die egpaar, Johann en Dorothea Foot, se lewe is by hul gesamentlike begrafnisdiens in die NG kerk in Gordonsbaai gevier.

By die diens het familie asook ds. Melissa Hoffmann, wat die diens gelei het, almal van die twee se liefde vir mekaar getuig.

“Dis oukei om te vra hoekom dit moes gebeur, hoekom sulke goeie mense moes ly.

“Ons is hier as familie en vriende om te rou oor die seer, om saam te huil en stories van Johann en Dorothea se lewe saam te vertel.

“Ons kan stories vertel van hul huwelik en wie hulle was.

“Ons het egter nie sekerheid oor hoekom of hoe hulle gesterf het nie. Die enigste sekerheid wat ons vanoggend het, is oor hul liefde vir mekaar,” het Hoffmann gesê.

Die twee paartjie was 52 jaar getroud en volgens hul familie het hulle die lewe saam aangepak.

“Hulle was vir 52 jaar mekaar se medereisigers. Hulle was mekaar se hoop. Hulle was mekaar se veiligheidsnet,” het Hoffman bygevoeg.

George van Huyssteen het die huldeblyke behartig en het Johann en Dorothea as die mees liefdevolle mense beskryf .

“Daar kom ’n tyd in ’n mens se lewe wanneer jy geen woorde het nie. Dié is so ’n tyd. Die liefde wat ek van daardie twee ontvang het, is onbeskryflik. As ek aan hulle dink, dan dink ek aan liefde.”

Van Huyssteen vertel die twee het ’n baie spesiale tradisie gehad wat hy na aan sy hart gaan koester.

“Hulle het ’n boks vol balletjies gehad wat hulle elke Kersdag aan die Kersboom gehang het. Elke balletjie het die naam gehad van iemand wat oorlede is. Dan het hulle – terwyl hulle die balletjies opgehang het – vir elkeen van daardie mense ’n oomblik van stilte gehou,” sê hy.

Die egpaar se kleinkinders onthou wanneer hul ma hul ouma en oupa gebel en as dit saans in nuustyd was, het hulle die foon geantwoord met “Dis nou nuustyd!”

“Ons sal Nunu (Dorothea) altyd as ’n ‘Bul’ onthou en vir Oupa as ’n ‘Stormer’. My ouma het baie van boeklees gehou,” het een van Johann en Dorothea se kleinkinders tydens die begrafnisdiens vertel.

Kaptein FC van Wyk, ’n Wes-Kaapse polisiewoordvoerder, het bevestig die saak word nog ondersoek en niemand is nog in hegtenis geneem nie.

“Wanneer ons liefde uitleef, dan leef ons iets van Johann en Dori (Dorothea) uit,” is van die bemoedigende woorde waarmee Hoffmann afgesluit het.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article