’n Groen vraghouer wat deur die Stad Kaapstad neergesit is om as ’n stoorplek vir rommel benut te word, het ontaard in ’n stinkende rommelhoop wat nou as ’n oogseer bestempel word.
Die groen vraghouer staan in Onverwacht-straat in die Beverly Hills- gemeenskap en is op ’n tyd gebruik vir sy doel (om vullissakke te stoor), maar volgens Rashied Hendricks, voorsitter van die Buurmanne-buurtwag, het die vraghouer nou ’n trekpleister vir dromkrappers geword.
“Die reuke is moeilik om te beskryf; dis ’n stank wat ’n mens moet beleef om te weet hoe erg dit werklik is,” het Hendricks gesê.
Hy en telke ander inwoners het die toestand van die groen rommel-vraghouer en die eiendom by die Stad aangemeld, maar etlike weke later is geen aandag nog daaraan geskenk nie.
Luthando Tyhalibongo, ’n woordvoerder van die Stad, het bevestig hulle is bewus van die vullis-vraghouer wat al ’n geruime tyd toe staan en die probleme daaroor.
“Ons wil inwoners verseker die Stad se direktoraat vir stedelike rommelbestuur doen alles binne sy vermoë om agterstande in die verwydering van rommel in te haal,” het Tyhalibongo verduidelik.
Volgens hom het die onlangse taxi-staking ’n massiewe impak op die Stad se rommelversamelingspanne gehad en het hulle ’n groot agterstand.
“Die Stad brei ook tans sy interne hulpbronne verder uit om die gebiede te diens wat normaalweg deur kontrakteurs gediens is. Die vraghouers se hoofdoel is om rommelsakke te stoor.”



