Die plaaslike polisie het twee afsonderlike geregtelike doodsondersoeke geopen nadat ’n babalykie en ’n liggaamsdeel van ’n fetus in twee hoeke van die Helderberg ontdek is.
Die eerste gruvonds is verlede Maandag (11 September) in Strand gemaak toe ’n voetganger na bewering ’n hond glo aan ’n volgroeide fetus sien vreet het.
Die owerhede is weer ontbied nadat die kop van ’n fetus die volgende dag (Dinsdag 12 September) by ’n rioolaanleg in Macassar gevind is.
Volgens ’n Strand-polisiewoordvoerder het beamptes omstreeks 16:40 op Maandag se voorval gereageer nadat die voetganger die hond met iets in sy bek op ’n oop veld langs die munisipale depot aan die agterkant van die brandweerstasie in Georgestraat gesien het.
Die voetganger, ’n 41-jarige man, wat ná werk in die omgewing huis toe gestap het, vertel hy het aanvanklik gedink die hond hardloop heel waarskynlik met iets wat hy uit die nabygeleë kanaal gesnuffel het. Toe hy die hond weer sien – hierdie keer in die omgewing van die vulstasie in Broadway Boulevard – het hy besef iets is nie pluis nie. Met ’n tweede blik is hy egter deur die vonds gesteur. “Toe ek weer kyk, sien ek iets wat soos die kop van ’n kind lyk. Ek het die hond verwilder en bevestig dat dit wel ’n babatjie was,” het die voetganger gesê.
Hy vertel voorts dat sy instink as voormalige polisieman dadelik ingeskop het. Hy het die skare omstanders en nuuskierige agies wat op die toneel begin saamdrom het, weg van die vonds gehou.
Volgens hom was die babaseuntjie se een kant van die bolyf, insluitend sy armpie, weggevreet. Die baba is met sy naelstring asook die nageboorte aangetref.
“Dit was ’n bitter prentjie, veral vir my wat pa is van ’n vyfjarige seuntjie. ’n Mens kan nie help dat jou hart breek nie.”
Die hartverskeurende gruvonds is gevolg deur nog een waarvoor die Macassar-polisie omstreeks 13:40 na die rioolaanleg in Macassar-weg ontbied is. Volgens ’n polisiewoordvoerder is die kop van ’n fetus in een van die masjiene gevind – vermoedelik nadat die liggaam glo by die masjiene ingespoel het.
Raadslid Zahid Badroodien, die Stad Kaapstad se burgemeesterskomiteelid vir water en sanitasie, het by navraag bevestig die Stad is bewus van die voorval en die personeellid wat by dié afdeling van die afvalwatersuiweringsaanleg werk, het die bestuurder ingelig.
Volgens Badroodien is die fetus by die inlaatwerke – die punt waar die afvalwater die aanleg binnegaan – aangetref. Dié gebied, insluitend die hele afvalwatersuiweringswerke, is omhein en nie toeganklik vir lede van die publiek nie.
Volgens Badroodien het die personeellid Dinsdagmiddag met inspeksie, wat uurliks of selfs meer gereeld – soos vereis – uitgevoer word, die oorblyfsels ontdek. “Die bestuurder is dadelik ingelig en die polisie is ontbied.”
Badroodien het by verdere navraag gesê sulke gruvondste word nie dikwels by die rioolaanleg aangetref nie en berading is aan die personeellede gebied.
Die vondste plaas die kollig opnuut op opsies soos die Choices-sentrum, wat ondersteuning en berading aan swanger ma’s bied wat krisis-swangerskappe in die gesig gestaar. Nog ’n opsie is die Helderberg Baby Saver.
Vroue wat hulle in ’n krisis-swangerskap bevind, kan Choices, ’n pro-vroueorganisasie, vir gratis berading nader. Die beraders is opgelei om te luister en akkurate inligting te verskaf oor die verskillende opsies wat beskikbaar is, sodat die betrokke vroue ’n ingeligte besluit oor hul toekomstige optrede kan neem. Die opsies is om die lewe te skenk en ouerskap te aanvaar, om die baba vir aanneming op te gee of om die swangerskap te beëindig. Choices bied ondersteuning ongeag die keuse.
Die Helderberg Baby Saver is ’n spesiale baba-kluis in die symuur van die Choices-sentrum in Schapenbergweg, Somerset-Wes, en dien as ’n laaste hawe vir hulp en hoop, wat die veilige verlating van ’n ongewenste baba moontlik maak. Die Somerset-Wes-konsep word ook elders in die Helderberg toegepas – die Macassar Baby Saver, wat in Augustus 2020 bekend gestel is, is by Musicalaan 3 geleë.
Wanneer ’n baba in die kluis geplaas word, word ’n alarm geaktiveer en aangestelde respondente, insluitend sekuriteitsbeamptes en noodpersoneel, kom haal die baba.
Die reaksie is gekoppel aan die kinderbeskermingsorganisasie Wandisa, wat na die statutêre prosesse omsien. Moeders word dus ’n veilige, anonieme alternatief vir babaverlating gewaarborg – geen vrae word gevra nie en geen kameras is op die terrein nie.
Die fasiliteit is in Augustus 2014 bekend gestel en die eerste keer in Oktober 2015 gebruik. Sedertdien is 12 babas al ’n kans op die lewe geskenk (“Baby Violet makes it a dozen,” DistriksPos & Helderberg Gazette, 15 Februarie).



