Chloë Emma Jordaan (regs) saam Magdalena Schmelz, die uitruilstudent van Duitsland, wat haar ouers tans in Suid-Afrika huisves. Dié twee het die laaste ruk boesemvriende geraak en Jordaan se groot wens is om volgende jaar as deel van ’n uitruilprogram Duitsland toe te kan gaan.


’n Leerder wie se droom dit is om vir 10 weke Duitsland toe te reis om daar as deel van ’n uitruilprogram skool te gaan, het die gemeenskap se hulp nodig om haar droom ’n werklikheid te maak.

Chloë Emma Jordaan (15), ’n gr. 9-leerder van die Hoërskool Strand, het die afgelope ruk boesemvriende geraak met ’n Duitse uitruilstudent, wat die familie as deel van ’n uitruilprogram huisves.

Deon Jordaan, Chloë se pa, sê die gesin, wat in Sercorpark woon, huisves tans ’n Duitse uitruilstudent, Magdalena Schmelz, as deel van ’n uitruilprogram.

Chloë het die geleentheid gekry om volgende jaar by Schmelz in Duitsland te gaan kuier as deel van die Beierse jeugraad-uitruilprogram.

“Chloë het ’n unieke en opwindende geleentheid om aan ’n Duitsland-uitruilprogram deel te neem. Die Beierse jeugraad (Bayerischer Jugendring, of BJR), in opdrag van die Beierse staatsministerie van opvoeding en kultuursake, is ’n internasionaal erkende organisasie vir uitruil en die bevordering van interkulturele ontmoetings tussen mense uit ’n wye verskeidenheid agtergronde,” sê Lize Kapp, ’n Suid-Afrikaanse verteenwoordiger van die BJR.

“Hierdie program is ’n uitsonderlike geleentheid vir persoonlike en akademiese groei en sal sonder twyfel ’n lewens-veranderende ervaring vir Chloë wees,” sê Kapp.

Dit is die droom van ’n leeftyd vir Chloë en ’n droom wat haar ouers haar wil sien vervul, aangesien sy tans ná skool ekstra klasse neem om haar Duits vir die uitruilprogram te verbeter, en natuurlik help dit, want sy kan haar Duits saam met Schmelz oefen.

“Die plan is dat Chloë aan die begin van Mei volgende jaar na München, Duitsland, sal vlieg, waar sy vir 10 weke by die Schmelz-familie sal woon en elke dag saam met Magdalena sal skool toe gaan. Aangesien sy as deel van ’n groter groep saam met ‘n volwasse begeleier sal reis, moet die vlugte reeds teen middel Oktober bespreek en betaal word sodat die hele groep op dieselfde vlug kan wees. Die vliegkaartjie (retoer) kos sowat R18 000 en verskeie versekeringskostes moet ook gedek word,” verduidelik Kapp.

Deon bevestig die berg wat nou voorlê, is om die bedrag in te samel vir hul dogter se reis van ’n leeftyd, en al het hulle al hier en daar geld ingesamel, is dit nog nie genoeg nie en reik die gesin uit na sakeondernemings en enige mense wat geld vir hul dogter se reis kan bydra.

“Ons wil die uitruilprogram-geleentheid vir ons dogter met albei hande aangryp, maar die kostes is baie hoog en ons wil die Helderberg-gemeenskap vir hulp vra. Ons moet aan die einde van die maand ’n deposito betaal, en ons het op die oomblik nie die geld daarvoor nie. Dis ’n voorreg wat ons dink net een keer in ’n leeftyd opkom, en ons wil dit vir ons dogter aangryp,” sê Deon.

  • As jy tot dié waardige saak wil bydra of nog inligting benodig, kontak Deon Jordaan by 073 423 3630.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article