’n Groep familielede wat uitgesien het om ’n week in die September-skoolvakansie saam op ’n plaas die Breederiviervallei deur te bring, se planne is in die wiele gery toe hulle op pad na hul bestemming die slagoffers van ’n noodlottige ongeluk geword het.
In plaas daarvan om bande te versterk, staar die familielede verlies in die oë op die pad na herstel.
Die Strand-polisie ondersoek ’n saak van strafbare manslag ná die botsing wat verlede Sondag (1 Oktober) in die vroeë oggendure by die padkruising op die hoek van Broadlands-weg en Broadway Boulevard afgespeel het.
Luidens ’n polisieverslag was ’n Isuzu-bakkie en Toyota Corolla-motorvoertuig in die botsing betrokke en het owerhede omstreeks 01:00 op die voorval, wat die lewe van ’n 50-jarige man geëis het, reageer.
Volgens Jermaine Carelse, ’n woordvoerder vir die Stad Kaapstad se brandweer-en-reddingsdienste, het brandweerspanne van Somerset-Wes op die botsing waarin die twee motorvoertuie betrokke was, reageer.
“Die Isuzu-bakkie het altesaam nege insittendes gehad, insluitend die bestuurder, en almal het beserings van verskeie grade opgedoen. Die bestuurder en die passasier van die Toyota Corolla het albei ligte beserings opgedoen. Die slagoffers is na ’n nabygeleë hospitaal vervoer. Benewens die plaaslike polisiediens was nooddienspersoneel van verskeie nooddienste, insluitend Metro EMS en Immediate Medical, op die toneel. Die pad is om 02:40 opgeruim,” het Carelse gesê.
Die oorledene, Koos Jackson, is glo een van minstens 10 familielede, onder wie ’n peuter, wat saam in die bakkie uit Strand na Rawsonville onderweg was. Die oorledene, ook van Rawsonville, is een van ongeveer ses insittendes wat onder die kappie agterin die dubbelkajuitbakkie gesit het.
Vier mense, insluitend die bestuurder, Jackson se seun as voorste passasier, Jackson se vrou asook die bestuurder se eggenoot, was voor in die bakkie.
Jackson is ernstig beseer nadat hy glo uit die bakkie geslinger is. Hy is kort ná die botsing deur paramedici na die hospitaal vervoer, maar het later aan ernstige beserings beswyk.
Volgens Isaac Conradie van Strand, Jackson se swaer, het die oorledene op die ongelukstoneel reeds swaar asemgehaal en die vermoede is dat hy weens inwendige beserings gesterf het.
Luidens ’n polisieverslag het die 51-jarige motorbestuurder geringe beserings opgedoen terwyl ’n 68-jarige passasier met meer ernstige beserings na die hospitaal vervoer is.
Conradie se kleinseun, ’n 15-jarige van Temperance Town het die botsing oorleef en die oomblikke voor die ongeluk in ’n onderhoud herroep. “Ons het almal daardie aand besluit om saam met my oom en tannie, wat vir die dag kom kuier het, terug Rawsonville toe te gaan vir ’n week vakansie. Nadat ons reeds in die pad geval het, het ons besef dat my tannie haar handsak met haar pille by my oupa se huis in Sercor-rylaan agtergelaat het. Gevolglik het ons weer omgedraai. Die ongeluk het op pad terug gebeur,” het hy onthou.
“Ons het oor die groen lig gery toe ’n aankomende kar teen die bakkie gebots het. Die bakkie het gerol en ek het uit vrees vir my lewe onophoudelik geskree.”
Die tienerseun sterk tans by sy ouerhuis aan ná geringe beserings, waarvoor hy in die hospitaal opgeneem en dieselfde oggend ontslaan is.
Sy tannie, ’n 21-jarige van Sercorpark, sê hulle het gesellig agter in die bakkie gesit toe hulle skielik die slag voel. “Ek het op die teerpad wakker geword. Soos ek my oë geopen het, het ek onmiddellik my ouer suster se tweejarige dogter gesoek om seker te maak dat sy oukei is. Hierna het ek vinnig huis toe gehardloop om hulp te ontbied. Toe ek saam met my ma-hulle na die toneel terugkeer, het owerhede reeds op die botsing reageer,” het sy gesê.
Volgens die slagoffer is sy bly dat sy en haar 28-jarige suster met slegs kneusplekke, skrape en snywonde van die voorval afgekom het.
Sy het hul dankbaarheid vir hul gespaarde lewens, asook die engel wat van bo oor die peuter gewaak het, uitgespreek, wat sy beskryf veel groter is as hul pyn weens die voorval wat steeds by hulle spook.
Op ’n vraag hoe die familie die verlies hanteer, het Conradie gesê hulle is platgeslaan deur die verlies van ’n goeie, hardwerkende man wat saggeaard was en alles vir sy vrou, twee kinders en twee kleinkinders gedoen het.
“Die verlies laat ’n groot leemte en ons mis hom reeds baie,” het hy bygevoeg.


