’n Gelukkige Rodwin Louis speel buite in die son in die Rooikruis-kinderhospitaal se speelterrein en dis amper onmoontlik om te dink dit is dieselfde seuntjie wat op Woensdag 6 September, terwyl hy op pad was skool toe, ernstige beserings opgedoen het toe hy deur ’n motor raakgery is.
Die ongeluk waarin die sesjarige laerskoolleerder op die M165 (Sir Lowry’s Pass-pad) in Gordonsbaai ernstig beseer is, het verlede maand die kollig opnuut op die veiligheid van jonger voetgangers – veral leerders wat skool toe stap en die besige pad moet oorsteek – geplaas. Die voorval het omstreeks 07:30 in die omgewing van die Gordonsbaai-gemeenskap-dagsentrum afgespeel toe die gr.R-leerder van Temperance Town Primêre Skool die besige pad na die skool na bewering in swaar oggendverkeer probeer oorsteek het (“Ongelukslagoffer (6) met kritieke beserings in hospitaal opgeneem,” Netwerk24, 6 September).
Benewens die feit dat hy in ’n koma was, is sy sleutelbeen en ribbes gebreek en een van sy ribbes het in sy niere gesteek.
Felicity Louis, Rodwin se ouma, was vyf dae ná die ongeluk (Maandag 11 September) nog onseker wanneer hy weer sy bewussyn sou herwin, maar wonder bo wonder het die klein vegtertjie twaalf dae ná die ongeluk wakker geword.
“Ons dank die Vader, want dit gaan baie goed met Rodwin. Hy is steeds in die hospitaal en is besig om weer te leer loop en praat, maar hy is ’n regte vegter,” sê Louis.
Die gemeenskap het kort ná die ongeluk hande gevat en die Gordonsbaai-buurtwag het op ’n daaglikse basis van die verbleikte voetoorgange op die Sir Lowry’s Pass-pad naby Temperance Town Primêre Skool beman. Een van die buurtwaglede, Steve Paul, het bevestig dat hulle steeds die oorgange beman en geen sulke voorvalle het intussen plaasgevind nie.
Bronagh Hammond, ’n woordvoerder van die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD), sê geen skool kan 100% die veiligheid van leerders waarborg op paaie wat hulle skool toe en terug gebruik nie.
“Dit is onrealisties en nie in die skole se beheer nie. Die skole kan nie motoriste se gedrag beheer nie. Maar maatreëls kan ingestel word om leerders (asook motoriste) meer bewus te maak van mekaar. Onderwysers en assistente vergesel die leerders pad toe en help hulle ná skool om die pad oor te steek,” sê Hammond.
Provinsiale polisiewoordvoerder luitenant-kolonel Malcolm Pojie het bevestig dat die saak nog nie nuwe verwikkelinge het nie. “ ’n Saak van roekelose en nalatige bestuur word steeds ondersoek. Niemand is nog in hegtenis geneem nie. Die saak is nog in ’n vroeë stadium,” het hy gesê.



