Owerhede op die toneel waar ’n uitgebreide soektog na die vermiste Mbongi Hilton Esau (9) van Smartie Town, Macassar, voortgesit is.


Die soektog na ’n jong seun wat vir die afgelope twee dae in Macassar vermis word, duur voort.

’n Uitgebreide soektog is vroeër vandag (Saterdag 21 Oktober) deur ’n soekgeselskap wat uit owerhede en inwoners bestaan, in die gemeenskap hervat. Dit nadat nuus van negejarige Mbongi Hilton Esau van Smartie Town se verdwyning Vrydagoggend bekend geword en die soektog geïnisieer het.

’n Kennisgewing is kort voor die naweek op sosiale mediaplatforms gedeel en ’n beroep is op die breër gemeenskap gedoen om die seuntjie te help opspoor. Mbongi is na bewering Donderdagmiddag (19 Oktober) laas gesien terwyl hy saam met vriende in die gemeenskap gespeel het. Volgens die pamfletbeskrywing het Mbongi, wat kort bruin hare, bruin oë, en ’n gemiddelde gewig en lengte is, ten tyde sy verdwyning ’n veelkleurige kortbroekie, grys t-hemp en swart insteekskoene aangehad.

Volgens Macassar-polisiewoordvoerder adjudant-offisier Desire Adendolf het Mbongi se ma hom in die vroeë oggendure van Vrydag by die polisiekantoor as vermis aangemeld. Die ouer het met vrae oor die omstandighede rondom haar seun se verdwyning meegedeel dat hy nie tuis was toe sy omstreeks 18:00 Donderdag by die huis arriveer het nie en ook nooit opgedaag het nie.

“ ’n Soektog is later dié oggend by ’n rivier oorkant hul huis in Kramatweg en waar die vermiste seun en twee maatjies glo gaan swem het, voortgesit. Polisieduikers en lede van die honde-eenheid het vanoggend (Saterdag) met ondersteuning van die EMS-nooddiens en besorgde gemeenskapslede met die soektog voortgegaan nadat hul reddingspogings teen Vrydagaand niks opgelewer het nie,” het Adendolf gesê.

Volgens Roekyda Kuys, skoolhoof van Marvin Park Primêr waar Mbongi ’n gr.3-leerder is, het sy en ander onderwyspersoneellede sonder huiwer by die soekgeselskap aangesluit in hoop om die jongeling te vind. Dit nadat hulle bewus geword het van Mbongi se verdwyning toe ’n onderwyser met sy emosiebelaaide ouer sussie Vrydagoggend by die skoolkantoor aangemeld het. “Sy het huil-huil meegedeel dat Mbongi glo nie die vorige aand by die huis opgedaag het nie en sedertdien gesoek word,” het Kuys vertel.

Mbongi se verdwyning kom kort ná die van Denecke Persence wie se lyk in Maart vanjaar in ’n toegegroeide kanaal in Rembrandtlaan in Marvinpark gevind is (“Tragedy strikes: Horrific discovery in Macassar canal,” DistriksPos & Helderberg Gazette, 12 Maart). Owerhede is Sondag 12 Maart tot aksie geroep nadat die lyk deur lede van ’n soekgeselskap, wat sedert Denecke se verdwyning die vorige aand (Saterdag) na haar gesoek het, in die kanaal ontdek is.

DNS-toetsuitslae is positief met Denecke verbind. Boonop is die 10-jarige ook in dieselfde t-hemp wat sy op die foto van die vermiste-persoon-kennisgewing aangehad het, gevind (“Lyk ís toe dié van jong Denecke”, 22 Maart).

Verdere ondersoek het daartoe gelei dat getuies na vore kom en die inhegtenisneming van ’n verdagte, wat die slagoffer se gesin se huisbaas en hulle ’n tuiste bied, moontlik gemaak (“Een vas ná Denecke-moord, 29 Maart). Die 55-jarige Geraldo Solomons van Macassar staan tereg op Denecke se moord en bly in aanhouding terwyl die hofsaak voortduur.

Gevra hoe sy voel oor die verdwyning van nog ’n leerder, het Kuys gesê: “Ek is hartseer. Die verdwyning is weens die feit dat daar geen afleiding is vir Macassar se kinders nie. Hier is nie programme waarby hulle kan betrokke raak of speelplekke nie, want dit word deur dwelmverslaafdes afgebreek om hul gewoontes te onderhou. Dit was Donderdag baie warm en almal was tog kind. Ons hoop om hom lewend te vind en dat hy oukei is. Hoewel kanse skraal lyk, hou ons moed en bly vertrou.”

Mbongi se ma, Nadeen Esau, het met navraag meegedeel dat sy sukkel om die woorde te vind om haar gevoelens te beskryf. “Ons hoop net dat hy gevind word,” het sy gesê.

Die ma van sewe het haar jongste beskryf as ’n baie bedagsame kind wat net alles in orde wou hê. Sy voeg by dat hy onlangs sokker as sport by die skool opgeneem het in hoop om sy droom om ’n afrigter te word na te streef.

Teen 17:00 Saterdag het die soektog glo nog niks opgelewer nie en is tot Sondag dit afgelas.

Enigiemand met inligting word versoek om die Macassar-polisie by 021 857 7100 te bel.

Die soektog word ondersteun deur besorgde gemeenskapslede, asook bekommerde familielede en Marvin Park Primêr ’n-onderwyspersoneel wat saam skouer aan die wiel sit om die jongeling op te spoor.

Hier is Mbongi se ma, Nadeen Esau wat ook help soek.

Die kennisgewing wat ná Mbongi se verdwyning op sosiale media gedeel is.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article