Die Macassar-polisie het ’n geregtelike doodsondersoek geopen nadat ’n lyk wat vermoedelik dié van vermiste negejarige Mbongi Hilton Esau is, Sondagaand (22 Oktober) ontdek is.
Die liggaam is in ’n rivier langs Kramatweg deur ’n gemeenskapslid aangetref. Dit nadat Mbongi Donderdagaand (19 Oktober) vermis geraak het en ’n soekgeselskap sedertdien na hom gesoek het (“Vermiste seun (9) nog soek,” Netwerk24, 22 Oktober). Die Smartie Town-jongeling is na bewering Donderdagmiddag laas gesien toe hy saam met twee maatjies glo in die rivier gaan swem en vermoedelik verdrink het.
Nuus van sy verdwyning het Vrydagoggend bekend geword en ’n kennisgewing is op sosiale- mediaplatforms gedeel met ’n beroep op die breër gemeenskap om die te help opspoor.
Volgens die Macassar-polisiewoordvoerder AO Desire Adendolf het Mbongi se ma, Nadeen Esau, hom Vrydag in die vroeë oggendure by die polisiekantoor as vermis aangemeld. Sy het op vrae oor die omstandighede rondom haar seun se verdwyning meegedeel dat hy nie tuis was toe sy Donderdag omstreeks 18:00 by die huis aangekom het nie en ook nooit opgedaag het nie.
Adendolf het voorts gesê ’n soektog is later dié oggend by die rivier oorkant hul huis wat agter Kramatweg in Japonicastreet geleë is en waar die vermiste seun en twee maatjies glo gaan swem het, voortgesit. Polisieduikers en lede van die honde-eenheid het Saterdag en Sondag met ondersteuning van die EMS-nooddiens en besorgde gemeenskapslede met die soektog voortgegaan nadat hul reddingspogings teen Vrydagaand niks opgelewer het nie. Nuus van die gruvonds deur ’n gemeenskapslid is Sondagaand op sosialemedia-platforms versprei en is Maandag (23 Oktober) amptelik deur Adendolf bevestig. Volgens die polisiewoordvoerder is die lyk Sondag omstreeks 18:00 deur ’n lid van die publiek in die rivier aangetref. “Dié man het glo ondersoek ingestel nadat hy kraaie in die omgewing van die rivier oorkant die vervalle gebou waar perdeskoue destyds gehou is, sien rondvlieg het. Die liggaampie het in die water naby ’n stuk boomstomp wat uitgesteek het, gedryf,” het Adendolf gesê.
Die lyk is glo meters van waar die seuntjies glo aanvanklik in opgedamde vleiwaters geswem het en later met polistireen- “vlotte” deur riete beweeg en in die rivier geroei het. Daar word vermoed dat Mbongi van ’n vlot afgeval en in die moeilikheid beland het.
Die verlies van Mbongi het sy familie geruk, insluitend sy ouer broer, Naphtali Esau, wat in sy hoedanigheid as voorsitter van die Macassar-polisie se Youth Desk as deel van die soekgeselskap gehelp het om sy boetie op te spoor. Volgens die 17-jarige Hoërskool Zandvliet-leerder sukkel hulle om die verlies te verwerk, maar vind hul vertroosting in die Here wat weet hoekom die tragedie hul geliefde Mbongi van hulle weggeruk het. “Die verlange is erg, maar ons glo dat hy op ’n beter plek is,” het Naphtali bygevoeg.
Volgens Roekyda Kuys, skoolhoof van Marvin Park Primêr waar Mbongi as gr. 3-leerder uitgeblink het, is die werklikheid ’n bitter pil om te sluk. “Die skool is in rou gedompel,” het Kuys gesê.
Die skoolgemeenskap het bewus geword van Mbongi se verdwyning toe ’n onderwyser met sy emosionele ouer sussie Vrydagoggend by die skoolkantoor aangemeld het. Kuys en mede-onderwyspersoneel het sonder huiwering by die soekgeselskap aangesluit in die hoop om die jongeling te vind.
Mbongi se verlies kom kort ná die van Denecke Persence wie se lyk in Maart vanjaar in ’n toegegroeide kanaal in Rembrandtlaan in Marvinpark gevind is (“Tragedy strikes: Horrific discovery in Macassar canal,” DistriksPos & Helderberg Gazette, 12 Maart). Owerhede is Sondag 12 Maart tot aksie geroep nadat die lyk deur lede van ’n soekgeselskap, wat sedert Denecke se verdwyning die vorige aand (Saterdag) na haar gesoek het, in die kanaal ontdek is. DNS-toetsuitslae is positief met Denecke verbind. Boonop is die 10-jarige ook in dieselfde T-hemp wat sy op die foto van die vermiste-persoon-kennisgewing aangehad het, gevind (“Lyk ís toe dié van jong Denecke”, 22 Maart).
Verdere ondersoek het daartoe gelei dat getuies na vore kom en die inhegtenisneming van ’n verdagte, wat die slagoffer se gesin se huisbaas en hulle ’n tuiste bied, moontlik gemaak (“Een vas ná Denecke-moord, 29 Maart). Die 55-jarige Geraldo Solomons van Macassar staan tereg weens Denecke se moord en word aangehou vir die duur van die hofsaak, wat voortgaan.
Volgens Kuys het personeellede saam met verteenwoordigers van Hope Revolution en gemeenskapslede in groepe by klasse omgegaan om aan die kinders die nuus mee te deel, van gevare bewus te maak en in gebed te tree. Die eerste klas waarby hulle ingeloer het was Mbongi s’n en sy klasonderwyser en maatjies is verpletter. “Die maatjie langs wie hy gesit het, het in ’n briefie meegedeel hoe sy hom mis en dat dit nie lekker is dat hy nie meer daar is nie,” het Kuys gesê.
Sy het bygevoeg dat geestelike leiers en die skool se maatskaplike werker hul ondersteuning aan personeel verleen en berading deur die provinsiale onderwysdepartement gereël word.
“Mbongi was ’n stil seun wat lief was vir speel wanneer hy buite op die skoolterrein was en ’n ywerige leerder in die klas. Hy het ’n passie vir sokker gehad en is net Donderdag as die o.10-doelwagter gekies.”
Volgens Nadeen wou Mbongi eendag ’n sokkerafrigter word. Die ma van sewe het haar jongste as ’n baie bedagsame kind beskryf.



