’n Buitelugavontuur in die vorm van die 2023-buitelug-en-veldry-ekspo Grabouw wag op plaaslike gesinne wat ’n liefde vir motors en die natuur deel.


Is jy ’n motorentoesias wat opgewek word deur enigiets met wiele? Hierbenewens geniet jy ook die buitelewe en altyd slaggereed vir ’n buitelugavontuur met die familie?

Indien jou antwoord ja is vir beide vrae dan is vanjaar se buitelug-en-veldry-ekspo Grabouw die plek waar jy die eerste naweek in November wil wees!

Die gesinsvriendelike geleentheid met die klem op vermaak, veldryvoertuie en -toerusting sowel as heerlike kos en wyn, word van Vrydag 3 tot Sondag 5 November aangebied. ’n Wye verskeidenheid karavaanhandelaars, insluitend twee wat splinternuwe modelle bekendstel (wat nog nie op plaaslike bodem gesien is nie), asook talle ander wat alles van motors en 4×4’s tot kamptoerusting bied, sal by die Elgin-krieketklub, aan die buitewyke van die Overberg-gemeenskap, te sien wees.

Hoewel hierdie opelugskou hoofsaaklik op dagbesoekers gemik is, is 40 kampeerplekke beskikbaar. Besprekings kan by www.lrclassic.com gedoen word.

Wat dagbesoekers betref, kan kaartjies vooraf elektronies op die webwerf www.lrclassic.com gekoop word. Ouers hoef nie vir kinders onder 12 te betaal nie. Vir ouer kinders tot 18 kos dit elke dag van die skou net R20. Volwassenes betaal Vrydag en Sondag R40 (pensioentrekkers R20) en Saterdag kos dit R50 (pensioentrekkers R30). Parkering is gratis.

Die buitelugbyeenkoms bied nie net gratis toegang vir kinders onder die ouderdom van 12 nie, maar ook gratis gebruik van die kindervermaakarea waar speletjies en ander aktiwiteite en ’n gratis koeldrank en versnapperingspakkie beskikbaar is.

Die 2023-Buitelug-en-veldry-ekspo Grabouw pronk met ’n groot kinderonthaalgebied, “Uncle George Kid’s Entertainment”, en speletjies en alles wat daar gebeur, word deur Pon Steyn 4×4 in Somerset-Wes geborg. Gesigverf, ballonknopers, twee springkastele, inkleuraktiwiteite, kinderoppassers, TV-speletjies en talle ander aktiwiteite is vir die kleingoed beskikbaar – alles ingesluit.

Die ekspo bied ook koskarretjies wat als van worsrolle, hamburgers en draairoomys tot hout-oond-pizzas verkoop.

Die skou, wat Vrydag van 12:00-18:00 oop is, Saterdag van 08:00 tot 18:00 en Sondag van 08:00 tot 15:00, sluit ook ’n biertent in sowel as ’n baie eksklusiewe kaas-en-wynproe-geleentheid.

Die biertent is elke dag oop, en die wynproe net Saterdag en Sondag, waarvoor wynproewers R250 elk betaal. Die wyn-proe-afdeling is in die klubhuis, en net kaartjiehouers word daar toegelaat.

Vir meer inligting, bel André by 083 640 3057.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article