’n Gemeenskapsaktivis het besluit genoeg is genoeg terwyl hy daagliks sien hoe misdaad en bendegeweld inwoners in Broadlandspark en Gustrouw se lewe verwoes.
Sebastian Cloete (46) sit in sy beskeie Broadlandspark-tuiste met ’n Bybel in sy hande en sy oë vol hoop. Máár, sy skouers vertel ’n ander storie – daarop dra hy die druk, wat vele ander in die woongebied ook voel. Dit is juis hoekom hy saam met Zorah Motasi, die stigter van die Vroue in Aksie-beweging, asook talle ander wat só moeg is vir misdaad in Strand, ’n drukgroep genaamd Strand Community Concern op die been gebring het.
“Ek is ’n Strand-boorling en het destyds vir die St. Georges-rugbyklub uitgedraf. Ek is dus bekend. My passie om as ’n aktivis en kampvegter vir my gemeenskap op te tree, spruit uit ’n voorval waartydens ek en my vrou die slagoffers van aanranding geword het en gevolglik die polisie se onbevoegdheid raakgesien het. En ons sien dit steeds in verskeie sake in Strand,” sê hy.
Cloete het tien jaar gelede ophou drink en rook en deesdae fokus hy om mense in sy gemeenskap te help.
“Ons is nie in ’n posisie om dwelmsmokkelary te stop nie. Dis ’n ketting van boosheid wat gebreek moet word, en dis iets wat ons nie kan doen nie. Ons kan wel met die bendes praat en hulle vra om twee keer te dink voordat hulle onskuldige mense van die gemeenskap beseer. Die misdade gebeur egter steeds; dan verloor iemand in die gemeenskap se kind sy/haar lewe en vir ’n week rou almal, en daarna gaan dinge later net weer aan soos gewoonlik.”
Dwelms en bendes het die norm geraak, bieg hy.
“Een oggend toe klap die skote net. Mense is in die spervuur. Toe kom hier ’n oproer tussen ons mense. Ons het besluit dit moet stop – dis nie normaal nie; iets moet gedoen word. Moet ek die volgende een wees wat hoor my kind is in die kop geskiet?” vra Cloete.
Hy vertel die drukgroep is besig om teen misdade te staan te kom, soos dié van verlede Maandag (23 Oktober) toe ’n 19-jarige man helderoordag in Sercorpark in geskiet is en later aan ’n kopwond beswyk het (“Wilde weste heers in Strand,” DistriksPos & Helderberg Gazette, 25 Oktober). Die noodlottige skietvoorval het ’n groot aantal lede van die drukgroep genoop om in Gustrouw bymekaar te kom en na die Strand-polisiekantoor op te ruk om hul misnoeë uit te spreek.
Cloete voeg by die meeste lede van die drukgroep geestelike mense is, nes hy. Die drukgroep het nie ’n leier nie en almal staan saam om euwels en misdaad in die gemeenskap te bestry.
“Ek het nou die dag juis ’n grootkop in die bendes gaan sien en gevra hoe ons die ding kan stop. Ek het ook al baie vergaderings saam met die polisie bygewoon en daar ook probeer praat, maar ’n mens kan net vir só lank praat, dan moet jy aksie begin neem.”
Hy sê die drukgroep se doel is om druk op die polisie te plaas.
“Ons is nie hier om kante te kies en dié groep of daardie groep te veroordeel nie. Die drukgroep is daar om die polisie verantwoordelik te hou vir hul werk. Dwelmbase word gevang, dan word hy/sy deur die polisie in hegtenis geneem, maar later die aand is hulle weer terug by die huis. Ons moet juis werk aan die polisie en hoe die sake hanteer word –dit is die doel van die drukgroep.”
Cloete, wat ’n toegewyde gesinsman en gelukkig getroud is, maak musiek saam met sy vrou wanneer hy nie in sy kapasiteit as drukgroeplid besig is om misdaad te bekamp nie.
“Die wet vat deesdae nie meer dwelmverwante sake ernstig op nie. Moordsake hier by ons is dwelmsake; die twee loop hand aan hand. Dis seker alright as een gangster ’n ander een doodskiet, maar in daardie proses kom onskuldige mense in die spervuur, en dis iets wat ons gaan probeer stop. Maar om dit reg te kry, moet ons die polisie en ons regstelsel in Strand regkry.
“Dis waar ons dinge moet verander; dis waar die drukgroep die verskil gaan maak.”



