“Wees waaksaam vir gevare in die buitelewe, veral slange wat in die natuur skuil. Kyk rond en hou jou oë op die grond, want as ’n slang jou met konfrontasie verras, is dit dalk net te laat.”

Só waarsku ’n Gordonsbaaise inwoner nadat hy ’n lewensbedreigende slangbyt, waarvoor hy twee dae in die hospitaal beland het, oorleef het. Die voorval het voorverlede Dinsdag (31 Oktober) in die gemeenskap plaasgevind toe die 25-jarige man vermoedelik deur ’n slang geteiken is. Die jong broodwinner en pa van Temperance Town het glo in die Helderberg Rural-omgewing gestap toe hy deur vermoedelik ’n Kaapse kobra gepik is. Die slagoffer is ná die slangaanval in ’n ernstige toestand in die hospitaal opgeneem.

Hy vertel dat hy Dinsdagmiddag in die omgewing van ’n woonstelblok gestap en skielik gevoel het hoe iets sy been tref. “My been het gebrand en lam begin voel. Ek het toe die slang, wat aanvanklik net vir ’n tydjie daar eenkant gelê het, gewaar en besef ek is gepik. “Ek het ’n tou om my been gedraai, vinnig ’n foto van die slang geneem en verder huis toe geloop,” vertel die slagoffer. “Met my aankoms by die huis het ek flou geword. Uit vrees vir my lewe het my huismense my na Gordonsbaai-sekuriteit (GBSek.) se nabygeleë kantore geneem.”

Volgens die GBSek-werknemer Blackie Swart, wat ook sy eie slangverplasingsdienste aanbied, is die slagoffer met simptome van lomerigheid, ’n bitter smaak in die mond en probleme om te sien en asem te haal, ontvang. Hy is kort ná sy aankoms deur GB Med Rescue-paramedici na ’n private hospitaal vervoer, waar hy vermoedelik teengif ontvang het. “Toe ek my oë Woensdagoggend oopmaak, het ek besef ek is in die hospitaal,” vertel die slagoffer wat tuis aansterk nadat hy Donderdag (2 November) ontslaan is en steeds afhanklik is van pynmedikasie vir sy been. Hy trap weens die slangbyt moeilik op sy been en verduur groot ongemak.

Swart, wat ’n ervare slangvanger met ’n permit is, doen ’n beroep op die breër Helderberg-gemeenskap om op hul hoede te wees vir slange wat met die warmer weer en somer om die draai meer gereeld voorkom. “Indien jy ’n onwelkome gas gewaar, moenie die slang pla nie. Hou ’n drie-meter-afstand en hou jou oë op die slang. En bel jou slangvanger. Indien jy deur ’n slang gepik is, bly kalm, neem vinnig ’n foto – as die geleentheid hom voordoen – en bel ’n slangvanger en die nooddienste,” moedig hy aan.

Volgens Swart strek die slangseisoen van September tot Maart/April en is die algemeenste slange wat in die Helderberg voorkom die pofadder, die Kaapse kobra en boomslang met verskillende gifstowwe. Tot dusver het hy reeds 60 slange in die Kom en omliggende gebiede verwyder en hervestig.

Hy het verder gesê twee troeteldiere in die Rome Glen-woongebied is al deur slange gepik, en een van die vierpotiges in die mees onlangse voorval verlede week het dit nie oorleef nie. . Besoek gerus Swart se Facebook-blad, Blackie Swart Snake Relocation Services vir meer inligting.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article