Skrywer-illustreerder Tanya O’Connor se nuutste inkleurboek vir volwassenes,Koester/Cherish is aanlyn beskikbaar.


“Neem vandag ’n besluit om jouself te begin koester. Kyk rondom jou. Moenie net kyk nie; sien ook. Jy kan jou omte vir jouself beter maak. Neem ’n besluit om jouself elke dag ‘Liefste’ te noem. En kleur in – dit werk vir soveel eina’s waarvoor jy nie naam kan kry nie.”

Met hierdie boodskap stel die 56-jarige Tanya O’Connor, ’n kleurvolle kunstenaar en skrywer van Gordonsbaai, haar nuutste boek, Koester/Cherish amptelik aan die Helderberg-gemeenskap voor.

Die nuwe vrystelling is O’Connor se sesde boek in ’n reeks inkleurboeke wat volwassenes ’n wonderlike ontsnapsessie in die vorm van inkleurterapie bied. Volgens O’Connor is Koester/Cherish ’n selfkoesterboek vir diegene wat in die siel voos is, net moeg, tam en lam is van daaglikse gebeure, en nodig het om hul passie opnuut te ontdek en te besef eenvoud werk. “Hierdie boek het my soveel plesier gegee om te skryf en te illustreer,” voer O’Connor aan. “Ek het die meeste daarvan in my she-tent geskryf en die boek is draai-knyp eerlik. Ek erken hoe ek myself vir jare verniel het; hoe ek my lewe, my kaste, my omte moet ontstoor om koester elke dag moontlik te kan maak. Ek het ook besef en geleer dat jy mense moet vertel wat hulle vir jou beteken, otherwise they will not know. Daardie gebaar van baie dankie vir wat jy vir my doen, beteken en is, maak só ’n verskil in ander se lewe se elke dag, en dit kring uit sodat hulle dit ook doen.”

DistriksPos het byna 10 jaar gelede met O’Connor gesels nadat sy haar tweede boek, Kom, kleur in vars op winkelboekrakke beskikbaar gestel het (“Kleur in met Tanya,” 16 Oktober 2014). O’Connor het voordat sy haar eerste boek, die blog-boek Hallo, lewe! in 2010 bekendgestel het, vir 25 jaar as ’n bemarker in die motorbedryf gewerk en motorrubrieke, blogs en resensies vir verskeie publikasies geskryf. Die laaste 13 jaar het sy boeke geskryf en geïllustreer en voltyds kuns gedoen.

Haar nuutste boek het ongeveer drie maande geneem om aanmekaar te sit, en daar is “nikse swaar lees” nie, net dit waarmee sy glo lesers kan assosieer. “Dis ’n boek wat maklik lees; daar is groot sketse wat ek met die hand geteken het en maklik inkleur, en daar is genoeg plek om jou eie woorde neer te pen. Dis ’n boek gevul met passie en die verhaal van hoe my blou Fiat my lewe verander het; hoe die motor my geleer het verander hoef nie bang-wees te veroorsaak nie. Dis nie ’n selfhelp boek nie, dis ’n selfkoester boek – daar is nie raad in nie. Ek deel net my gedagtes oor koester, verandering, verbetering deur nie net te kyk nie, maar te sien ook.”

Sy voeg by wanneer sy na haar eerste boek en Koester/Cherish kyk, besef sy hoe sy as kunstenaar en mens gegroei het. “My sketse het meer vryheid; vertel meer ’n storie. Koester/Cherish is geskryf sonder om terug te hou.”

Op die vraag wat die boek inspireer het, sê sy: “Die inspirasie vir die boek was my Fiat 500 Twin Air Sport Cabriolet, die mense van Rola wat vriende geword het, die Cape Fiat 500 and Abarth Society (’n groep Fiat-entoesiaste wat hul motors koester en so een keer ’n maand saam gaan ry, baie lag en mekaar ondersteun), die besef om myself te koester, my familie, die erken van ek kan beter leef, beter funksioneer en dit wat vreemd is, hoef ek nie voor bang te wees nie.”

Wat is volgende vir dié skrywer-illustreerder? “My uitgewer, Naledi, is altyd een voor met nuwe idees en nuwe manier van doen. Ons het begin met inkleurboeke met geskryf by, toe ’n inkleur-dagboek-joernaal en notaboek. Ek glo hulle dink buite enige konstruksie om kreatiwiteit te beperk en juis daarom is hulle suksesvol.”

Skrywer-illustreerder Tanya O’Connor se nuutste inkleurboek vir volwassenes,Koester/Cherish is aanlyn beskikbaar.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article