Gemeenskapslede, gemeenskapsleiers en aktiviste uit bendegeteisterde gemeenskappe in en om Strand het die afgelope naweek in Broadlandspark vergader en hul misnoeë en klagtes oorgedra aan die burgerlike organisasie People Against Gangsterism and Drugs (Pagad).
Broadlandspark se gemeenskapsaal was Saterdag (18 November) teen 15:00 die bymekaarkomplek vir die vergadering waar die gemeenskappe ’n kans gekry het om Pagad in te lig oor hoe bendegeweld en bendeverwante skietvoorvalle hulle raak.
Zorah Motasi, die stigter van die Vroue in Aksie-beweging, wat die vergadering bygewoon het, maar aan die begin nie veel gesê het nie, is vorentoe geroep en gevra om oor bendeverwante misdade te praat en te vertel hoe dit die gemeenskap beïnvloed.
“Ons is keelvol. Kinders wat voor ons grootgeword het, terroriseer nou ons gemeenskappe in hul rolle as bendelede,” was van haar eerste woorde.
Motasi het lede van die onderskeie bendes, wat ook die vergadering bygewoon het, stip in die oë gekyk en hulle aangespreek as “afbrekers” van die gemeenskap.
“Ons ken nie die monsters wat julle geraak het nie. My ultimatum aan julle is om jul wapens neer te lê en te besef wat julle doen, is verkeerd. Doen die regte ding en draai om en los die dinge agter julle,” het sy gesê.
Verder het Motasi ook uitgebrei oor polisielede wat vermoedelik kop in een mus is met bendes, omkoopgeld aanvaar en dan inligting met die bendes uitruil.
Zoghrah Kriel van Pagad se departement van maatskaplike welsyn, het bevestig individue van Strand het die laaste paar maande na hulle uitgereik vir hulp.
“Die mense het genoeg gehad van die bendes en dreigemente. Ons het uitgereik na die gemeenskappe om hul inwoners bymekaar te maak om saam te staan teen die aanslag. Die polisie word geskakel, maar in die meeste gevalle ry hulle net verby. Die einste gemeenskap se kinders word vasgekeer deur die bendes – as hulle nie die kinders as bendelede intrek nie, dan word hulle in die spervuur raakgeskiet,” sê Kriel.
Sy sê ouers is moeg om hul kinders te begrawe, en dis juis iets waarvan Pagad op die vergadering te hore gekom het.
“Een van die ouers het aan ons vertel dat ouers deur hul kinders begrawe moet word – kinders moenie deur hul ouers begrawe word nie.”
Kriel vertel nuus oor die bymekaarkoms het vinnig versprei en Pagad se Facebook-blad is gevul met inwoners uit die Strand wat hulle bedank dat hulle uitgereik het en na die gemeenskappe wat so onder die bendes ly, uitgekom het.
Abigail Goodman, die mediabeampte by die nuwe drukgroep genaamd Strand Community Concern, het bevestig die groep is bereid om hande te vat met enige organisasie of individu wat bereid is om te help met die veiligheid van gemeenskappe wat deur bendes geraak word.
“Ons baan nog die weg om maniere te vind om bendegeweld te beperk en stop te sit. Pagad het genoem hulle sal ons nie 24/7 kan bystaan nie, maar hulle sal ons help om vrede teweeg te bring. Pagad is selfs bereid om hulpbronne in te span.
“Ons is op soek na maniere waarop ons ’n duidelike boodskap kan stuur dat ons nou genoeg van die bendes gehad het,” het Goodman gesê.
Kriel het bevestig Pagad werk aan planne vir ’n optog deur die bendegeteisterde gemeenskappe van die Strand (iets wat iewers in die toekoms gaan plaasvind) maar sy kan op hierdie tydstip nog nie daaroor uitbrei nie.
“Ons het ’n need om weer ons normale lewens terug te kry. Ons wil weer in vrede lewe, want ons verdien dit,” pleit Motasi.


