Abigail Alexander, wat Sondag 10 Desember doodgeskiet is.


“Sy was op die verkeerde plek, op die verkeerde tyd.”

Só onthul ’n grootmoeder nadat haar kleindogter se lewe in ’n sinnelose bendeverwante skietvoorval geëis is.

Die skietery het Sondagmiddag (10 Desember) – presies ’n week ná ’n vorige skietvoorval – in Sercorpark afgespeel.

Die slagoffer, 34-jarige Abigail Alexander, is na bewering in die spervuur gewond en kort ná 17:00 in Petuniastraat dood. Haar lyk moes tot 19:00 ten aanskoue van omstanders daar lê totdat die polisie opgedaag het. Zorah Motasi, die stigter van die Vroue in Aksie-beweging, was op die toneel kort nadat Alexander geskiet is en vertel dat sy nog ’n rukkie geleef het voordat sy haar laaste asem uitgeblaas het.

“Benewens die feit dat die ma van drie se dood onverskoonbaar is, moes ons ure wag vir die polisie om by die misdaadtoneel op te daag. Ek het oproep ná oproep gemaak, maar die polisie het net nie uitgekom om die misdaadtoneel af te sper nie.”

Jermaine Carelse, ’n woordvoerder van die Stad Kaapstad se brand-en-reddingsdienste, het bevestig dat die brandweerpersoneel teen 17:00 op ’n noodoproep reageer het en dat die slagoffer se lyk ure daarna nog net so gelê het totdat die polisie opgedaag het.

“Ons reddingspan van die Strand-brandweerstasie het teen 17:12 op die toneel aangekom en die vrou is dood verklaar. Metro EMS se ambulans het om 17:30 aangekom. Geen polisiebeamptes was op die toneel nie en brandweer­beamptes het hulp gevra nadat die skare volatile begin raak het. Die polisie het eers 19:00 opgedaag,” sê Carelse.

Strand-polisiewoordvoerder AO Nico Beukes sê die oponthoud is veroorsaak deur die feit dat die polisie se patrollievoertuie met klippe bestook is.

“ ’n Saak van opsetlike saakbeskadiging word ondersoek nadat ’n patrollievoertuig se voorruit uitgegooi is,” sê hy.

Die Strand-polisie sê Alexander se liggaam is met ’n kopwomd in ’n woning in Petuniastraat aangetref. Volgens ooggetuies was daar ’n optog in die gebied van gemeenskapslede saam die burgerlike organisasie People Against Gangsterism and Drugs (Pagad) waardeur die skietery glo ontstaan en die slagoffer deur ’n dwaalkoeël getref is,” sê Beukes.

Zoghrah Kriel van Pagad se department van maatskaplike welsyn, vertel ’n ander weergawe, en volgens haar was die gemeenskap bly om Pagad die afgelope Sondag in Strad te verwelkom. “Die mense het besluit genoeg is genoeg. Die gemeenskap het saamgestaan en geskree die moorde moet stop en hulle wil ’n dwelm-vrye samelewing hê. Ons kan ongelukkig nie kommentaar lewer oor die vrou wat dood is nie.”

Elizabeth Arendse, Alexander se ouma en by wie sy en haar drie kinders –onderskeidelik ses, 15 en 17 – gewoon het, sê op die dag van die voorval was sy op pad om by ’n vriendin te gaan kuier en sy is buite die vriendin se voorhekkie geskiet.

“Hulle (bendelede) het begin skiet net voordat sy by die hek ingegaan het. Hulle wou glo ’n ander vrou skiet en toe is my kleinkind raakgeskiet. Die vrou het gekoes en toe tref die skoot Abigail,” sê Arendse, wat haar kleinkind as ’n “lieflike mens” beskryf.

“In die huis was sy dieselfde as wat sy buite was. Sy was nie iemand wat sommer maklik sou aanstoot neem nie. Sy was altyd gewillig om te help en het nooit ‘nee’ gesê om mense te help nie,” onthou Arendse.

Niklaas Thysen, woordvoerder van Strand-gemeenskaps-polisiëringsforum (GPF) sê die GPF betreur die voorval en dra sy innige meegevoel aan die familie oor. “Ons beplan om ’n formele brief aan die nasionale vervolgingsgesag te rig om te verseker dat ons regstelsel meer doeltreffend met hoëprofiel- bendelede se sake te werk gaan.”

Motasi hoop die reg gaan sy gang en dat die skuldiges aan die pen sal ry. . ’n Begrafnis vir Alexander word gereël.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article