Rusthof Primêre Skool groet ná byna vier dekades sy skoolhoof, Godfrey Julies.


Die afsluiting van die 2023- akademiese jaar bring vir ’n laerskool in Strand ook die einde van ’n era wanneer hul geliefde skoolhoof, wie se naam in meer as drie dekades sinoniem met dié baken van hoop geword het, die tuig neerlê.

Rusthof Primêre Skool se hoof, die 60-jarige Godfrey Julies, tree hierdie maand ná byna 40 jaar van uitnemende dienslewering by die skool waar hy sy loopbaan voortgesit het, uit die onderwys. Julies se laaste dag by die skool was verlede Donderdag (14 Desember) toe hy die leisels aan ’n opvolger, wat met trots die skool se etos en die Rusthof-fakkel vorentoe sal dra, gegee het.

Julies se loopbaan in die onderwys het op 1 Januarie 1985 by Rusthof Primêre Skool in Elfdestraat begin. Die passievolle onderwyser, met ’n natuurlike liefde vir die kinders, is in 1995 tot departementshoof bevorder, voordat hy in 2002 as skoolhoof aangestel is. Hy het altesaam 39 jaar aan Rusthof en die skoolgemeenskap gewy.

In ’n vinnige terugblik herroep Julies hoe hy as gekwalifiseerde onderwyser om drie onderwysposte aansoek gedoen het. Hoewel Rusthof Primêr aanvanklik nie sy eerste keuse was nie, het die skool en sy personeel hom wel gekies.

Julies is deur die destydse hoof, William Petersen, as geskikte toevoeging tot die skool verwelkom en het sedertdien nooit teruggekyk nie. Hy het met sy aanstelling vinnig besef dié skool pronk met baie goeie, ervare opvoeders by wie hy kon leer.

“Hoewel die reis nie aldag maklik was nie, was dit wel die moeite werd. My grootste struikelblok was die aanpassing nadat ek tot skoolhoof bevorder is; van my beste jare was die 17 jaar wat ek in die klaskamer as opvoeder deurgebring het. Ek koester veral die kinders,” deel hy.

As onderwyser het Julies verskeie vakke onderrig, insluitend wiskunde, tale, kuns en handwerk, liggaamlike opvoeding en geskiedenis. Hy het ook ’n bydrae gelewer tot Rusthof se buitemuurse aktiwiteite en het verskeie sportsoorte soos atletiek, rugby, sokker en swem afgerig, maar ook landloop by die skool gestig. Hierdie betrokkenheid by leerders op sportgebied het sy goeie verhoudings met menige van hulle bevorder.

“Ek het vroeg in my lewe geweet ek wil graag ’n onderwyser word, omdat ek besef het watter voorreg dit is om met kinders te kan werk en presies hoe belangrik die rol van iemand in hierdie beroep is. Ek het inspirasie geput uit talle ander na wie ek opgekyk het en weens verskeie redes nie hul onderwysdroom kon verwesenlik nie. So het ek daarop gefokus om my ’n onderwysloopbaan met die doel om ’n positiewe invloed op jong kinderlewens te bewerkstellig, uit te kerf,” vertel hy.

Hoewel Julies verskeie kwalifikasies, waaronder ’n BA-graad met sy honneurs in geskiedenis, ’n regsgraad (deur die Universiteit van Suid-Afrika) en onderwysdiploma (van die Wesley-onderwyskollege in Soutrivier) verwerf het, sal sy keuse ’n loopbaan in onderwys bly. Nes soos vir enige ander passievolle onderwyser is van sy trotsste oomblikke wanneer leerders op skool uitblink en later sukses behaal.

Julies, wat sy skoolloopbaan by Dr. G.J. Joubert Primêre Skool voortgesit en aan die Hoërskool Gordon gematrikuleer het, meen sy grootste prestasie was toe die skool se sistemiese resultate met meer as 20% verbeter het en deur die provinsiale onderwysdepartement toegeken is.

Julies koester kosbare herinneringe wat oor die dekades heen met personeel en leerders gemaak is en meer goeie as slegte tye wat hy by Rusthof beleef het.

Hy sê egter sy aftrede is bittersoet.

Hy gaan wel ’n ieder en ’n elk by die skool mis, maar sien ook daarna uit om nuwe avonture en uitdagings aan te pak.

Julies besit ’n Duitse herdershond, waarmee hy graag elke dag self wil gaan stap, en hy beoog ook om die Comrades-marathon in die nuwe jaar baas te raak. Nog meer wil hy ’n bietjie rondrits om plekke te sien en saam met “pelle” te kuier.

Sy boodskap aan almal wat hy by die skool agterlaat: “Kyk mooi na die skool, die geriewe en veral mekaar.”

Hy het die gemeenskap en leerders aangemoedig om gebruik te maak van die skool, wat hul toekoms kan help verbeter en die sleutel tot sukses is.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article