Twee inwoners van ’n aftreeoord in Somerset-Wes se liefde het vir ses dekades floreer en met hul onlangse 66ste huweliksherdenking het hulle al die jare saam aan God se genade toegeskryf.
Jan (86) en Tillie Noble (84), wat in Silver Oaks-aftreeoord in Somerset-Wes woon, is op 11 Januarie 1958 – op ’n paar dae ná presies 66 jaar gelede – getroud.
“Ons het mekaar in 1955 by ’n skou ontmoet. Ek wou vir haar ’n hamburger koop, maar sy wou dit nie gehad het nie. Maar, ek het aanhou probeer,” spot Jan.
Tillie glimlag net en skud haar kop toe Jan weer praat oor die hamburger, maar bevestig die spreekwoordelike koeël was kort daarna deur die kerk.
“Ek het gebid vir ’n goeie vrou van die Here, en toe kry ek een,” voeg Jan by.
Tillie het kort ná hul troue ’n voltydse tuisteskepper geword terwyl Jan die pot aan die kook gehou het.
“Jy moet eintlik vra waar het ek nog nie gewerk nie, want ek het baie werke gehad. Ek het my ambag by die Spoorweg as ’n tegnikus geleer en daarna het ek marine engineering gedoen en ek’t op skepe gaan werk. Ek was in ’n stadium ook ’n verkoopsman, ek was ook in die vloot en ek het later op ’n myn in Transvaal gaan werk. Ons het 30 jaar daar gebly en ons vier kinders (twee seuns en twee dogters) het daar grootgeword,” deel Jan.
Tillie vertel trots dat hulle sewe kleinkinders en ses agterkleinkinders het. “Wat hou ons bymekaar? Die reis was nie altyd glad nie. Christopher Columbus het gesê: ‘You must be prepared to lose sight of the shore if you want to cross the ocean.’ Die Here het ons bymekaar gehou,” brei Jan uit.
Tillie se raad aan ander paartjies is om altyd die Here te raadpleeg. “Die Here se woorde sal jou wysheid gee,” meen sy.
Jan is van mening dat die sêding, “Take all you want, but pay the price” van toepassing is op hul lang huwelik, want elke keuse wat hulle maak, het ’n uitwerking op hul huwelik, en dis hoekom hulle God in al hul keuses inreken en so gelowig as moontlik lewe.



