Dr. Marieke van der Zalm, by die Universiteit Stellenbosch se Desmond Tutu TB-sentrum.


Twee uit drie adolessente by wie pulmonale tuberkulose (TB) gediagnoseer is, ervaar longabnormaliteite selfs nadat hulle die behandeling vir dié siekte suksesvol voltooi het.

Hierdie onrusbarende bevinding is onthul in ’n nuwe studie deur navorsers van die Universiteit Stellenbosch (US), wat onlangs in die prominente mediese joernaal, The Lancet’s series; eClinicalMedicine, gepubliseer is. Dit is die eerste studie wat longfunksie in adolessente met TB omvattend geassesseer het tydens anti-TB-behandeling en ná voltooiing van behandeling.

“Min is bekend oor post-TB-longsiekte by adolessente,” verduidelik die studieleier, dr. Marieke van der Zalm, by die US se Desmond Tutu TB-sentrum. “Ons data dui daarop dat ’n groot deel van adolessente ’n verswakte longfunksie het ná suksesvolle voltooiing van TB-behandeling. Strategieë word vereis om individue met ’n risiko vir respiratoriese morbiditeit te identifiseer en intervensies is nodig om longgesondheid ná TB te verbeter.”

Elke jaar ontwikkel ’n geraamde 850 000 adolessente tuberkulosesiekte, waarvan ongeveer 90% in lae- en middelinkomstelande woon. Adolessensie is ’n belangrike tydperk vir longgroei en respiratoriese siektes, soos TB, kan moontlik inmeng met normale longontwikkeling. Tuberkulose tydens adolessensie kan dus ’n iemand se vermoë om volle longpotensiaal te bereik, negatief beïnvloed.

“Met die kombinasie van die hoë TB-las, die erns van TB-siekte, sommige gedragsaspekte (insluitend rook), en die kritieke tydperk in longontwikkeling, kan adolessente meer TB-geassosieerde respiratoriese morbiditeit hê in vergelyking met volwassenes,” waarsku Van der Zalm. “Met ’n langer lewensverwagting ná TB in vergelyking met volwassenes, kan adolessente aansienlik bydra tot die algehele ongeskiktheidslas wat deur TB veroorsaak word.”

Die studie is in Kaapstad, Suid-Afrika, gedoen en het 100 adolessente tussen die ouderdomme van 10 en 19 jaar ingeskryf. Die studie het die longfunksie van 50 adolessente wat met TB gediagnoseer is, vergelyk met dié van 50 gesonde adolessente wat aan TB blootgestel is, maar nie siekte ontwikkel het nie. Die groep wat met TB gediagnoseer is, het ’n reeks longfunksietoetse (spirometrie, plethysmografie, diffusiekapasiteit longfunksie en ses minute looptoets) twee maande nadat anti-TB behandeling begin is, en weer na die voltooiing van behandeling, gemiddeld ’n jaar later, uitgevoer. Resultate van die eerste assessering (wat twee maande ná behandeling uitgevoer is) het abnormale longfunksie onder 76% van adolessente gevind, en 65% het steeds abnormale longfunksie getoon by die tweede assessering wat uitgevoer is na suksesvolle voltooiing van behandeling.

“Die feit dat adolessente met TB na suksesvolle behandeling algehele laer longfunksie het in vergelyking met hul eweknieë is kommerwekkend, want dit kan beteken dat hulle nie hul volle potensiaal sal kan bereik wanneer hulle volwassenheid bereik nie, met die daaropvolgende risiko om vroeg chroniese longsiekte te ontwikkel aan in die lewe. Studies het getoon dat selfs ligte inkorting van longfunksie geassosieer word met verhoogde risiko van hart- en longprobleme later in die lewe, of selfs voortydige dood. Gevolglik wys ons data dat adolessente wat TB gehad het die risiko loop om permanente langtermyn hart- en longprobleme te hê,” waarsku Van der Zalm en kollegas.

“Ons resultate toon dat adolessente dringend ingesluit moet word by studies wat die voorkoming en behandeling van tuberkulose-geassosieerde respiratoriese morbiditeit ondersoek; dit sluit die behoefte in om longgesondheid as ’n uitkoms binne tuberkulosebehandelingsproewe by adolessente te assesseer.”. Vir meer inligting, kontak vir prof. Marieke van der Zalm by 076 047 2982 of mariekevdzalm@sun.ac.za.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article