Die Macassar-inwoner Geraldo Solomons, wat van die grumoord op Denecke Persence aangekla is, is verlede Maandag (29 Januarie) in die hospitaal in aanhouding dood.
Owerhede het vandeesweek bevestig dat die 55-jarige moordbeskuldigde daardie noodlottige Maandag in die vroeë oggendure onder polisiebewaking in die Victoria-hospitaal dood is.
Volgens ’n Macassar-polisiewoordvoerder het Solomons glo aan ’n vergrote hart gely en is hy voor sy sterfte weens onbekende mediese redes in die mediese fasiliteit naby Pollsmoor opgeneem, waar hy vir die duur van die hofsaak in aanhouding was.
Solomons is om 01:26 Maandag dood in sy hospitaalbed aangetref. Sy dood, weens natuurlike oorsake, volg enkele dae nadat hy hom weer in die beskuldigdebank by die Strand-landdroshof moes bevind. Met sy mees onlangse hofverskyning verlede Vrydag (26 Januarie) is die moordsaak aanvanklik tot Woensdag 6 Maart uitgestel, maar weens Solomons se sterfte is die moorddossier in die hofproses om heel waarskynlik na ’n geregtelike doodsondersoek verander te word.
Denecke se ouers, Karin Pietersen en Dirkie Persence, het in lig van die nuwe verwikkelinge gesê hulle word agtergelaat met talle onbeantwoorde vrae, want nes Denecke is Solomons nou ook met besonderhede van wat presies gebeur het, graf toe.
“Ek sal nie sê die moordbeskuldigde het gekry wat hy verdien het nie, want hy het nog nie gepleit nie. Maar, ons ploeter aan en bid dat afsluiting wel moontlik is,” het Dirkie gesê.
’n Sigbare emosiebelaaide Karin het, terwyl sy teen die trane baklei, erken sy sukkel steeds om die werklikheid wat haar gesin in die oë staar, te begryp. “Ek weet nou nog nie hoe om te voel nie. Soms voel ek Denecke is nie rêrig weg nie,” het die bedroefde ma in trane gesê.
“Ons het net die waarheid gesoek, want die werklikheid is dat niks my kind gaan terugbring nie.
“Ons moet ons hierby berus. Ons gaan haar mis – baie – en ons sal haar nooit vergeet nie, veral nie my 15-jarige, wat baie geheg was aan Denecke nie.”
Volgens die ouers het hulle sedert Denecke se moord – byna ’n jaar gelede – ’n ondraaglike tyd agter die rug, maar danksy die Godgegewe genade en krag druk elke gesinslid deur met hoop vir ’n beter toekoms.
Hulle het ’n hartlike “dankie” uitgestuur aan die Macassar-polisie en hul speurders wat onverpoos ’n dikwels donker pad saam met die familie stap en sonder huiwer die ekstra myl loop.
“Baie, baie dankie. Ons wou hê die moordbeskuldigde moet pleit en hom eindelik aan die pen sien ry, asook sy uitdrukking sou die dag aangebreek het dat hy tronkstraf opgelê is. Hoewel dit nie moontlik is nie, oorvloei ons harte met dankbaarheid vir die onwrikbare ondersteuning van almal,” het Karin gesê.
Denecke se oudste suster, Elthia Pietersen (23), het speur-adjudantoffisier Cobus Greeff uitgesonder wat dou- voordag daardie Sondag by die familie aangemeld en hom in die soektog ingespan het.
Die ondersoekbeampte speursers. Norman Ngonelo het sy dankbaarheid uitgespreek teenoor die gemeenskap wat hande gevat en kragte saamgesnoer het om Denecke op te spoor, asook twee mans wat deurslaggewende inligting wat tot ’n deurbraak in die saak gelei het, verskaf het.
Die gemeenskapsaktivis Auriel September het gesê: “Al sou ons hom graag skuldig bevind en gevonnis wou hê, glo ek dat wraak aan die Here behoort. Mag Denecke se siel in vrede rus.”
September is die sekretaris van die Macassar-geloofsteenmisdaad-komitee en die Macassar Greater Civic Organisation sowel as die dryfkrag agter die gemeenskapsorganisasie Yondla Abalambileyo Foundation, wat geslagsgeweld bestry. Die organisasie het destyds ’n petisie teen Solomons se borgtogaansoek ingedien.
DistriksPos & Helderberg Gazette het ’n dogter van Solomos om kommentaar genader, maar die 32-jarige het die geleentheid van die hand gewys.





