Hier staan van die brandslagoffers wat hul wonings verloor het. Voor (regs) staan Patrick Hendricks met sy kleinkind. Foto: Rick Marais


Meer as 30 inwoners wat in sak en as is ná ’n verwoestende brand wat hulle dakloos gelaat het, doen ’n beroep op die gemeenskap om hul harte oop te maak vir die uitdaging om hul lewe te probeer herbou.

Die fondasies is al wat oorgebly het nadat die brand voorverlede Maandag (29 Januarie) nege wonings in Broadlandspark tot niet gemaak het. ’n Brandslagoffer, Patrick Hendricks, wie se huis se mure nog staande is, maar die dak erg beskadig is, sê hy steier nog van die skok weens die voorval. Dié inwoner, wat by Petunia-rylaan 116 woon, onthou hulle het sy kleindogter se verjaardag gevier toe die brand, wat glo by ’n nabygeleë struktuur ontstaan het, verwoesting gesaai het.

Volgens Hendricks het die brand só vinnig versprei dat niks daaraan gedoen kon word om die nege tuistes waarin meer as 30 mense gewoon het, te red nie. Buiten pogings om sy woning van 24 jaar van die vlammehel te probeer red, moes Hendricks eers sy 40-jarige seun, wat in ’n rolstoel is, asook sy honde en kleinkinders na veiligheid bring.

“Toe die brandweer kom, het hulle eers van die huise wat agter aan die brand was, gaan spuit voordat hulle die vlamme by my huis kom bestry het. Die skade was egter reeds daar,” vertel Hendricks.

Hy het tydens DistriksPos & Helderberg Gazette se besoek gewys waar sy huis oral skade het en die dak is volgens hom so erg beskadig dat hy sy hele huis sal moet herbou.

Volgens ’n gemeenskapsleier, Iris Julies, word daar vermoed dat die brand ontstaan het terwyl vermeende dwelmgebruikers met kattekwaad doenig was.

“Die brand het ontstaan toe tikkoppe koperkabels hier agter aan die brand gesteek het. Ek glo vas dat dit die brand veroorsaak het. Dit was nie ’n kortsluiting of so iets nie,” bespiegel Julies. Jermaine Carelse, ’n woordvoerder van die Stad Kaapstad se brand-en-reddingsdienste, het bevestig brandweerpersoneel het ná ’n noodoproep om 14:30 daardie Maandag op die voorval gereageer. “Brandweerspanne met altesaam 15 brandbestryders van Strand en Sir Lowry’s Pass is met vier brandbestrydings-hulpbronne na die toneel uitgestuur.

“Die brand is teen 16:00 geblus en die oorsaak van die brand is onbekend,” het hy gesê.

Carelse het ook bevestig dat ’n brandverslag voltooi is en dat altesaam drie huise en ses informele strukture in die brand vernietig is en meer as 30 mense dakloos gelaat is.

Julies het gesê mense wat rondom die afgebrande tuistes woon, het die brandslagoffers vir tyd en wyl ingeneem.

“Die mense het kort ná die brand kos en komberse ontvang, waarvoor hulle baie dankbaar is. Die nood is nou om vir almal weer ’n herberg te kry. Winter is op pad en die mense kan nie tot dan by hul bure bly nie.

“In een huis byvoorbeeld is daar meer as 16 mense. Die mense moet weer hul huise herbou, en dis waarom ons uitreik na die gemeenskap en sakeondernemings vir boumateriaal vir die nege huise,” sê Julies.. Enigiemand of instelling/onderneming wat met skenkings van boumateriaal wil help, kan Julies by 076 567 0801 bel.

Patrick Hendricks in sy huis wat erg in die brand beskadig is en dringend herbou moet word. Hy huisves tans van die mense wat alles in die brand verloor het. Foto: Rick Marais

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article