Misdaad neem weer toe in sektore een en twee in die Strand-polisiëringsgebied.
Volgens statistieke sluit die toenemende soorte misdaad kontakmisdade soos messteek-voorvalle in. Die situasie het beide gemeenskapsleiers en die Strand-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) bekommerd oor die stand van sake.
AO Nico Beukes, ’n woordvoerder van die Strand-polisie, bevestig ’n toename in inbrake word in sektor een ervaar, en in sektor twee is rooftogte op straat aan die toeneem.
“Die voorvalle vind vroeg in die oggend plaas wanneer voetgangers geteiken word. Die modus operandi is twee mense wat die slagoffer nader en dan eiendom met geweld steel. Die wapen is gewoonlik ’n skerp voorwerp of ’n vuurwapen,” sê Beukes.
Hy raai die publiek aan om nie alleen te stap nie, om pepersproei as ’n afweermiddel by hulle te hê en bedag te wees op alles wat om jou aangaan.
Fokus op dwelmhuise
Niklaas Thysen, ’n woordvoerder van die Strand-GPF, bevestig die forum se fokus is op onwettige smokkel en dwelmhuise, wat tans ’n groot bron van kommer is.
“Hierdie is plekke waar jongmense aangerand word. Die GPF het ’n versoek aan die polisiebestuur gerig om saam te werk om die vlaag ernstige geweldsmisdade soos messtekery en rooftogte te bekamp. Ons gaan dit doen deur saam met al die buurtwagstrukture te werk om veiligheid van inwoners te verseker,” sê Thysen.
Die GPF is tans besig om ’n beter verhouding met die gemeenskap sowel as die polisie te skep, voeg hy by.
“Dit is ook baie belangrik dat die GPF te alle tye poog om die belange van ons gemeenskap eerste te stel asook vir die polisie om goeie diens te lewer wat op respek en vertroue gegrond is,” verduidelik Thysen.
Vergadering vir samewerking
GPF-lede en van die Strand-polisiebestuur het Saterdag (17 Februarie) met Fundile Nabe van die provinsiale departement van gemeenskapsveiligheid by die kantoor van Turn Around 180 in Strand vergader en oor die nuut gewysigde eenvormige GPF-grondwet vir die Wes-Kaap gepraat. Volgens Thysen is die nuwe eenvormige grondwet ’n gids oor hoe die polisie, GPF’s en gemeenskappe saam kan werk om misdaad te bestry.
Jannie Frieslaar, die Strand-GPF-voorsitter, het op die vergadering uitgebrei oor die belangrikheid van sterk vennootskappe tussen al die organisasies wat saam misdaad moet bestry.
Probleme in die gemeenskap
Apostel Manfred Jumat, ’n gemeenskapsleier van Broadlandspark en voorsitter van die plaaslike buurtwag, is daagliks op grondvlak en ervaar eerstehands die invloed van misdaad op gemeenskappe. Hy glo samewerking tussen alle rolspelers is die oplossing om misdaad te bestry.
Hy het verder beklemtoon dat misdaad – veral messtekery – “baie betreurenswaardig” is en gesê iets moet aan dié situasie gedoen word.
“Ons is baie bekommerd oor die toename van hierdie soort misdaad. Die sinlose geweld waaraan ons gemeenskap weekliks blootgestel word, is baie ongesond en het ’n negatiewe invloed op ons mense se vryheid en veiligheid,” het Jumat gesê.
“Die uitwerking daarvan breek die moraal van ons samelewing af en inwoners raak gewoond aan hierdie lewe. Dit skep ’n verkeerde beeld vir ons jonger geslag en laat emosionele letsels wat later tot gedragsafwykings kan lei.”
Dit is “uiters frustrerend” om te sien hoe baie jeugdiges sonder ambisie en visie deur die lewe voortstrompel, het hy bygevoeg.
“Ek doen ’n beroep op jongmense om hul skoolloopbaan ernstig op te neem en nie in die slaggate te val van school drop-outs nie. Ek praat daagliks met jongmense wat ek in hul soeke na werk help en motiveer hulle om nie op te gee op hul drome nie,” het Jumat gesê.
Hy glo goeie opvoeding begin by die huis en word in die skole voortgesit.
“Jy kan net iemand wat reg opgevoed is, reg leer. Ons hou egter aan om vir ons gemeenskap te bid, want ons glo die potensiaal is daar om ’n beter samelewing te hê,” sluit Jumat af.


