’n Plaaslike gimnasium in Somerset-Wes is in die polisie se kollig nadat ’n vlaag diefstalsake waartydens verskeie “persoonlike items” soos selfone onlangs uit gebruikers se sluitkaste gesteel is, aangemeld is.

Iemand wat op voorwaarde van anoniemiteit met DistriksPos & Helderberg Gazette gepraat het, het genoem dat ’n sindikaat bedrywig is by Waterstone Village-winkelsentrum se Virgin Active, waar twee weke gelede op een Saterdag drie selfone uit gebruikers se sluitkaste gesteel is.

“Die bestuur is baie onbehulpsaam. Hulle (die bestuur) bevestig hulle kan niks doen om die slagoffers te help nie en hulle maan mense om ekstra versigtig te wees terwyl die diefstalle ondersoek word,” sê die anonieme bron.

Sersant Suzan Jantjies, ’n woordvoerder by die Somerset-Wes-polisie, het bevestig 11 diefstalle het by Virgin Active Waterstone Village plaasgevind en een is by ’n ander gimnasium aangemeld.

“Altesaam 12 diefstalle by gimnasiums in Somerset-Wes word ondersoek. Gimnasiumgangers het in al die gevalle hul persoonlike items in die sluitkaste toegesluit toe dit gesteel is,” sê Jantjies.

Derick du Preez, bedryfshoof by Virgin Active, bevestig die diefstalle, maar sê weens die ondersoek kan hulle nie veel uitbrei oor die omstandighede nie.

“Ons erken die werklikheid van misdadige aktiwiteite by ons klubs. Die veiligheid van ons personeel, lede by die klubs asook hul besittings is ons grootste bekommernis en dis iets waaraan ons aandag gee,” sê Du Preez. Hy sê ook verskeie maatreëls is by Virgin Active se gimnasiums ingestel, waaronder kommunikasie met lede oor veiligheid asook plakkers op sluitkaste en inligting via hul sosialemedia-kanale. “Ons pleit by lede om sluitkaste by die klubs wat CCTV-kameras het, te gebruik. Ons doen ook ’n beroep op lede om waaksaam te bly. Ons werk tans saam met wetstoepassers en private veiligheids­organisasies om die aangemelde voorvalle te ondersoek,” voeg Du Preez by.

Jantjies het verder bevestig niemand is in verband met die diefstalle in hegtenis geneem nie en maan klante by gimnasiums aan om paraat te wees.

“Die ondersoek duur voort. Enigiemand met inligting oor die diefstalle word aangeraai om die Somerset-Wes-polisie by 021 850 1325 te bel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article