Inwoners wat verlede jaar van Eagle Bar-informele nedersetting na Morkel’s Cottage moes verhuis, is nie tevrede nie, want van die beloftes wat deur die raadslid gemaak is, het daar dadels gekom.
George Watkins en nog 59 inwoners van Eagle Bar-informele nedersetting in Brewery-pad, Weltevreden, het in Desember verlede jaar die nuus ontvang dat hulle moet trek. Die inwoners is materiaal belowe waarmee hulle hul huise kon herbou, en dié materiaal is aan hulle voorsien.
Die Subraad 8-voorsitter en raadslid Chantal Cerfontein het sanitasie, lopende water en elektrisiteit ook aan die inwoners beloof (“Inwoners sal moet trek, of …”, DistriksPos & Helderberg Gazette, 13 Desember).
“Toe ons hierheen trek, het die raadslid en die Stad Kaapstad se mense beloof ons krag sou teen Januarie al gekoppel wees en ons sal elektrisiteit hê. Dis nou al amper Maart en ons wag steeds vir die elektrisiteit om aangelê te word,” sê Katrien Renoster, een van die oorspronklike inwoners van Eagle Bar wat verlede jaar met haar kinders na Morkel’s Cottage naby Boundaryweg verhuis het.
Renoster het kort ná die gesprek aan DistriksPos & Helderberg Gazette gewys waar sy tans buite haar huis kos voorberei.
“Ek moes ’n beskutting om my vuurmaakplek bou, want ek is bang as die wind waai, dan veroorsaak ek dalk ’n brand. Maar ek het geen keuse nie, want ek het nie krag nie en ons moet eet en kos voorberei.”
Bettie Rossouw (55), wat ook hier woon, sê sy maak tans op haar gasstofie kos, maar sy erken gas is duur om weer vol te maak en soms moet sy vuur maak om kos te maak.
Henry Tamani, ’n gestremde man wat al 20 jaar in Morkel’s Cottage woon, vertel dat ’n klomp beloftes deur die raadslid gemaak is voordat die nuwe inwoners van Eagle Bar by hulle ingetrek het.
“Elektrisiteit is beloof, want hier was nog nooit krag nie. Hier is tans net vier toilette, wat almal wat hier woon, moet deel. Die mense stry soms oor die toilette.
“Hier is ook net twee krane vir almal. ’n Klomp beloftes is gemaak, maar nie een daarvan is nagekom nie,” voeg ’n ontstelde Tamani by.
Cerfontein het bevestig dat ’n versoek aan die water-en-sanitasie-afdeling gerig is waarin hulle aangepor word om ekstra krane vir die inwoners te installeer. Sy het DistriksPos & Helderberg Gazette na die Stad Kaapstad vir kommentaar oor die elektrisiteit verwys. Die Stad het terugvoer van Beverley van Reenen, die burgemeesters-komiteelid vir energie, gestuur.
Van Reenen het bevestig dat verskeie besoeke by Morkel’s Cottage afgelê is. “Elektrisiteitstoevoerkabels word nou by buitenste erwe geïnstalleer.
“Beamptes is besig om met inwoners te kommunikeer oor planne om slote te grawe om kabels te lê,” deel Van Reenen.



