Die Strand-polisie se woelwater-speurders: Speursersante Gary Hess, Domonic Carelse, John Muller en Reginald May. Foto: Rick Marais


Vier misdadigers wat weens verskeie sake in hegtenis geneem is, ry aan die pen danksy die prysenswaardige werk van vier Strand-speurders.

Speursersante Gary Hess, Domonic Carelse, John Muller en Reginald May maak dit meer as hul werk om te verseker dat misdadigers nie aan die lang arm van die gereg ontkom nie en het in die laaste paar weke van Februarie die vrugte van hul onverpoosde pogings vir ’n veiliger samelewing gepluk. Dié vier spog met positiewe resultate wat vonnisse vir ernstige misdaadsake, waaronder poging tot moord, gewapende roof, huisbraak en die besit van onwettige vuurwapens en dwelms, insluit.

Hess het ’n pluimpie ontvang nadat ’n vermeende huisrower, wat in verband met ’n voorval van verlede jaar aangekeer is, op Donderdag 22 Februarie tronkstraf opgelê is. “Die beskuldigde is tien jaar tronkstraf opgelê, waarvan twee jaar vir vyf jaar opgeskort is, mits hy hom nie weer skuldig maak aan huisbraak en diefstal of diefstal of poging tot diefstal en aanranding met die doel om ernstig te beseer binne die opgeskorte vonnis van vyf jaar nie. Indien hy in hegtenis geneem word, sal hy die oorblywende straf uitdien,” sê adjudant-offisier Nico Beukes, ’n woordvoerder van die Strand-polisie.

Die 40-jarige beskuldigde is ook onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit.

Carelse spog ook met ’n goeie vonnis in ’n poging-tot-moord-saak wat verband hou met huishoudelike geweld waarin die verdagte ook op 22 Februarie ’n gewigtige tronkstraf in die Strand-landdroshof opgelê is.

Die landdros se vonnisoplegging bepaal die 37-jarige manlike beskuldigde word 25 jaar tronkstraf opgelê, waarvan vyf jaar vir ’n tydperk van vyf jaar opgeskort word, mits die beskuldigde nie aangekla word van poging tot moord gedurende dié tydperk van opskorting nie. Die beskuldigde in die saak is ook onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit.

’n Dag ná dié twee vonnisopleggings is nog ’n verdagte in die Strand-landdroshof gevonnis. Die vonnis is die gevolg van uitstekende ondersoekwerk deur speursersant May in ’n gewapende- roof-saak. Die 35-jarige manlike beskuldigde het verlede jaar ’n slagoffer vir sy Samsung Galaxy A23-selfoon met ’n vuurwapen aangehou en gedreig en beroof. Die beskuldigde is aan die rooftog skuldig bevind en het agt jaar tronkstraf ontvang, waarvan drie jaar vir ’n tydperk van vyf jaar opgeskort is. Ook dié beskuldigde sal nie weer ’n vuurwapen mag besit nie.

Verlede Woensdag (28 Februarie), ’n dag voor skrikkeldag, is ’n 43-jarige verdagte vir die besit van ’n onwettige vuurwapen en kokaïen skuldig bevind en jare agter tralies opgelê.

Muller het hard agter die skerms gewerk vir die suksesvolle skuldigbevinding van die verdagte en vonnisoplegging.

Op aanklag een vir die onwettige besit van ’n vuurwapen het die verdagte agt jaar tronkstraf ontvang, waarvan twee jaar opgeskort is vir ’n tydperk van vyf jaar op die voorwaarde dat die beskuldigde nie aangekla word van ’n vuurwapen-beheerwet-oortreding tydens die tydperk van opskorting nie. Op aanklag twee, wat te doen het met die besit van kokaïen, het die beskuldigde ’n jaar tronkstraf ontvang. ’n Verdere aanklag is tydens die vonnisoplegging bygevoeg dat die beskuldigde onbevoeg verklaar is om ’n vuurwapen te besit, en hiervoor het hy ’n bykomende ses maande by sy tronkstraf ontvang.

“Toewyding en positiewe ingesteldheid is die woorde wat die span se suksesse die beste beskryf. Daar is altyd positiewe resultate in goeie speurwerk,” sê Beukes.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article