’n Onlangse foto wat by Harbour Island in een van die “geslote gebiede” geneem is waar talle mense ’n lyntjie natmaak en net soos Van der Horst onbewus is van die Wet op Lewende Mariene Hulpbronne. Foto: Verskaf


’n Afgetrede inwoner van Macassar, wat ’n paar weke gelede deur ’n beampte van die departement van omgewing, bosbou en visserye (Deff) vasgevat is nadat hy garnale gaan pomp het, is nou onseker of hy op sy gereelde visvangplek kan visvang nadat die departement erken het ’n fout is op ’n brosjure gemaak en mense mag nie in daardie gebied in die Helderberg hengel nie.

Cornelius van der Horst (65), wat onlangs deur ’n Deff-beampte naby aan Harmonypark-oord verhoed is om aas uit te pomp, is nou onseker oor waar hy mag visvang nadat iemand wat verkies om anoniem te bly onlangs ’n Deff-brosjure met DistriksPos & Helderberg Gazette gedeel het wat aandui oewer-hengel (en geen ander soorte hengel) mag plaasvind tussen die bek van die Lourensrivier en die oostelike golfbreker van die hawe by Gordonsbaai, tot en met 500 meter in seewaarts.

Van der Horst is egter onseker oor waar hy mag hengel, want die Wet op Lewende Mariene Hulpbronne (Wet nommer 19 van 1998) dui aan dat geen hengel vir ontspanningsdoeleindes in geslote gebiede mag geskied nie. Die geslote gebiede sluit Strand en Gordonsbaai in.

Van der Horst is van bakboord na stuurboord gestuur oor die garnale wat hy pomp nadat hy die nodige visvang-permit en ander dokumente byderhand gehad en minder as die limiet van 50 garnale (prawns) gepomp het. (“Mag hengelaar pomp of nie?” DistriksPos & Helderberg Gazette, 21 Februarie).

Die koerant het by Peter Mbelengwa, ’n woordvoerder by Deff, gaan aanklop om uit te vind wat die wetgewing behels en vir plaaslike hengelaars beteken.

“Ingevolge regulasie 10 van die algemene regulasies (GNR 1111 van 2 September 1998) wat gepubliseer is in die Wet op Lewende Mariene Hulpbronne wat oor geslote gebiede handel, mag niemand in dié gebiede hengel nie,” verduidelik Mbelengwa.

Hy erken egter in die voormalige seevissery-wet is afgekondig dat stok-en-katrol-hengel in dié gebiede wel toegelaat word.

“Die inligting het verkeerdelik in die ontspannings-visvangbrosjure verskyn. Die regulasies is nie meer geldig nie en is vervang met die Wet op Lewende Mariene Hulpbronne (Wet nommer 19 van 1998) wat visvang in daardie geslote gebiede verbied. Die departement is tans besig om die brosjure by te werk en die visvang-wetgewing te verduidelik,” sê Mbelengwa.

Hy bevestig ook aan die koerant dat geen aas in die geslote gebiede gepomp mag word nie, en dít is hoekom Van der Horst en talle ander vissermanne gevra is om hul garnale in die see terug te gooi.

“Die geslote deel tussen Strand en Gordonsbaai maak dit onwettig vir hengelaars om daar aas te gaan pomp. Dit is deel van Wet 19 van 1998,” noem hy.

Ingevolge die Wet op Lewende Mariene Hulpbronne (Wet nommer 19 van 1998) strek die grense van die Helderberg Mariene Beskermde Gebied van die hoogwatermerk en ’n lyn 500 m seewaarts van die hoogwatermerk af, tussen die westelike grens, ’n lyn reg suid van die mond van die Eersterivier, en, as oostelike grens, ’n lyn reg suid van die mond van die Lourensrivier in Valsbaai.

Van der Horst is onseker oor wat die “hersiene” wetgewing gaan beteken vir talle mense wat daagliks in die omgewing vir oorlewing hengel.

“Baie mense is mislei. Ek hoop ons kan mense kry om die ding te beveg. Ons moet nou op plekke soos Monwabisi gaan hengel, wat gevaarlik is en waar ’n mens van jou visvang-gereedskap beroof kan word en selfs met die dood gedreig word,” sê hy.

Hy het ook verder uitgebrei en genoem die Deff sal kennisgewingborde moet aanbring om hengelaars te waarsku waar hulle nie mag hengel en nie mag aas uithaal nie.

Daar is wel ietwat positiewe nuus vir hengelaars en dit is dat die Deff bevestig het hulle sal dit oorweeg om ’n stel permitvoorwaardes in te sluit om hengel in sommige van die geslote gebiede toe te laat.

“Die sal gebaseer word op historiese gebruike wat onder die Wet op Seevisserye van 1988 gelys is,” sê Mbelengwa.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article