Logan Abrahams van Somerset-Wes het verlede jaar se Boland Pink Walk for Cancer as deelnemer en kanker-oorlewende baasgeraak. Die jongeling is egter net bietjie meer as ’n jaar ná haar deelname in die ouderdom van 23 oorlede.Foto: Jamey Gordon


“Sy was ’n ware engelkind met ’n goue hart, met die mooiste geaardheid en ’n bewonderens­waar­dige respek vir haar medemens.”

Só deel ’n bedroefde Levirn Sylvester, wat haar eersgebore dogter ná ’n dapper kankerstryd aan die dood moes afstaan.

Logan Abrahams het haar engelvlerkies op Menseregtedag (Donderdag 21 Maart) gekry nadat dié 23-jarige van Somerset-Wes die geveg teen ’n teruggekeerde en wydverspreide kanker verloor het. Abrahams het die koerant sowat ’n jaar gelede gehaal vir haar inspirerende verhaal as ’n voorbeeldige wonderwerk wat ’n seldsame tongkanker baasgeraak het en ná behandeling weer opnuut uitgesien het na die lewe (“Op herstelpad ná tongkanker,” DistriksPos & Helderberg Gazette, 8 Maart 2023).

Volgens haar 43-jarige ma is tongkanker op 8 September 2022 by Abrahams gediagnoseer. Sy het in Maart dié jaar ’n seertjie op haar tong gehad wat pynlik was en tot vinnige gewigsverlies weens die moeilikheid om te eet gelei het.

Platgeslaan

Die Sylvester-gesin, wat aanvanklik deur die hartverskeurende nuus platgeslaan is, het moed geskep en hulself geestelik en verstandelik toegerus vir die stryd wat vir Abrahams voorgelê het. Abrahams het op 11 Oktober ’n suksesvolle 10 uur lange operasie ondergaan, waartydens die aangetaste deel van haar tong en kliere in haar nek verwyder is, en teen einde Desember het sy ook ses weke van daaglikse bestraling deurgemaak.

Sy is in Februarie 2023 met ’n doktersbesoek meegedeel dat geen kanker meer by haar bespeur word nie en sy wonderbaarlik van die siekte genees is.

Opnuut entoesiasties oor die res van haar lewe en die blink toekoms wat wink, het Abrahams as kanker-oorlewende met ’n hernude lewenslus voluit geleef en geleenthede aangegryp.

Sy het selfs Sondag 5 Maart verlede jaar die Boland Pink Walk for Cancer saam met geliefdes aangepak.

“Logan het getrou haar drie-maande-doktersbesoek by die Tygerberg-hospitaal bygewoon, en niks het ooit in die fisieke ondersoek opgeduik nie – totdat sy in Desember verlede jaar begin kla het oor oorsteek en pyn in die wang en kaak aan die kant van haar gesig waar hulle geopereer het, en later oor keelseer ook,” vertel Sylvester.

“Ons het haar toe na ’n spesialis by ’n private hospitaal geneem, wat Logan onmiddellik na die Tygerberg-hospitaal verwys het vir ’n biopsie waarvoor sy toe op 3 Januarie gegaan het.

’n Paar dae hierna is ons meegedeel dat dit weer kanker is – dié keer in die keel.”

Abrahams het op 6 Januarie vanjaar rekenaartomografie-skandering ondergaan en is die volgende dag meegedeel dat die kanker so ver as die senuwees versprei het en niks meer vir haar gedoen kon word nie.

Abrahams het verskriklike pyn verduur en het, volgens Sylvester, deur ongeveer 100 pynpille per week gegaan, wat benewens morfien geneem is. Dokters het aanvanklik op 12 Februarie besluit om radioterapie in te span om die kanker te help krimp en die pyn beter te behandel. Maar toe 26 Februarie aanbreek, was Abrahams te swak en is besluit op ’n eenmalige bestraling-sessie wat sy op dié dag ontvang het.

Net enkele weke

In weke hierna het Abrahams verskriklik verswak en agteruitgegaan; sy het al sedert Desember gesukkel om te eet en te drink, en haar spraak en beweging het later ook daaronder gely. Sy is ook op drie afsonderlike kere in die hospitaal opgeneem nadat bloed onophoudelik uit haar mond gestroom het.

Volgens Sylvester het Abrahams van verlede Maandag (18 Maart) af nie juis meer beweeg nie, die klokkie vir bystand probeer lui of gepraat nie, en hierbenewens het sy verlede Woensdag (20 Maart) ’n hoë koors gehad wat net nie wou breek nie.

“My moederhart kon dit nie hou nie; ek was verpletter om my kind so te sien,” het Sylvester gesê.

Teen Donderdagmiddag het Abrahams nie meer haar oë oopgemaak nie en oplettend stadiger begin asemhaal.

“Ons het onmiddellik die predikant gebel en naasbestaandes laat kom. En iets moois het gebeur. Terwyl die predikant gebid het, het hy my hand geneem en by haar hart geplaas. Soos hy ten slotte in sy gebed, ‘Go in peace’ geuiter het, het ek gevoel hoe Logan haar laaste asem uitgeblaas het,” vertel Sylvester terwyl sy teen die trane veg.

Sy sal haar geliefde dogter ewig vir haar goedheid en hartverwarmende glimlag sonder tande waarmee sy op soveel familiefoto’s pronk, onthou.

Abrahams word oorleef deur haar ma, stiefpa, sibbe – vier susters en twee broers, en twee oumas.

  • Die begrafnisdiens is Saterdag.

Logan Abrahams van Somerset-Wes (voor, derde van links) het verlede jaar se Boland Pink Walk for Cancer as deelnemer en tongkanker-oorlewende saam met geliefdes aangedurf. Die jongeling is egter net bietjie meer as ’n jaar ná haar deelname in die ouderdom van 23 oorlede. Fotos: Jamey Gordon

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article