Ek reageer op (“Oeps! Verkeerde hengel-wet gedruk,” DistriksPos & Helderberg Gazette, 13 Maart).
Ek is op 6 Mei verlede jaar beboet vir onwettige visvang nadat ek deur twee wetstoepassingsbeamptes voorgekeer is toe ek met my garnaalpomp op Strand se hoofkusgebied garnale gepomp en ’n uitgespoelde rooi-aas-kop opgetel het.
Die wetstoepassingsbeamptes het ook hierdie verkeerde brosjure gebruik om hul optrede te regverdig. Ek het die saak in die hof betwis en die saak is uitgegooi en die boete geskrap nadat die beamptes nie vir die hofsaak opgedaag het nie. Hulle het sekerlik besef hulle het verkeerd opgetree en was nie bereid om hul optrede in die hof te verdedig nie.
Mnr. Mbelengwa se weergawe sluit nie die volledige sin van regulasie 10 in hoofstuk 13 van die Wet op Lewende Mariene Hulpbronne, GNR. 1111 van 2 September 1998, wat met geslote gebiede handel, nie.
Dit is duidelik dat ’n mens wel in ’n geslote gebied mag hengel/aas uithaal as jy die nodige geldige permit het.
In die Staatskoerant nr. 18930 van 27 Mei 1998 op bladsy 7 van “Definitions” is dit duidelik dat aas soos sand-garnaal ingesluit word by vis en visvang.
Dus kan dit afgelei word dat wetstoepassingsbeamptes verkeerdelik optree en Jan Publiek verhoed om die genoemde kusgebied ingevolge hul konstitusionele reg te benut.
Nou wonder ek maar net hoeveel mense is al verkeerdelik beboet en het maar die boete betaal om nie in die hof te verskyn nie.
Onthou, as jy ’n boete wil betwis, moet jy af vat by die werk om in die hof te verskyn. En maak jou maar klaar vir minstens twee hofverskynings, en dan moet jy nog regsonkostes vir ’n prokureur aangaan.
Ek wil op alle hengelaars ’n beroep doen om die boete in die hof te betwis. Dalk kan ons ’n groep stig om almal by te staan?
Ek is self twee weke gelede deur drie wetstoepassers beveel om op te hou garnale pomp, maar ek het hulle die nodige dokumente gewys. Dit is op my selfoon en ek dra altyd ’n papierkopie saam met my.

